Voltyds op ’n missie

Voltyds op ’n missie

Ek is weer terug by die span bergfietsryers wat ons huis gehuur het om te oefen vir die Cape Epic. My mond het oopgehang vir die kos wat nog hier in die yskas was. Natuurlik net die beste van die beste, want met die pond en dollar is enige winkel vir hulle ’n winskopie.

Ek het eintlik nog nie sulke kos gesien nie. Dis pampoenpasta en sulke dun groen lang pypies. Ek vermoed dis een of ander groente. Dis amandelmelk en dun gerookte stukkies vleis – lyk soos spek, maar daar’s geen vet aan nie. Die wyn is uit die boonste rakke en dit lyk asof hulle van Chardonnay hou. Seker omdat dit so goed saam met salm en sagte kase gaan wat deel is van hulle dieet.

Toe hulle groet, vra die bestuurder verskoning vir al die leë plastiekbottels wat by die agterdeur staan. Die span drink 40 liter water per dag.

Maar ’n professionele fietsryer het seker so ’n inname nodig om elke dag vir agt ure of meer in die saal te wees en berg op en berg af te ry. Dis eintlik ’n leefstyl. ’n Styl waar die gewone lekkernye van ’n vetterige skaaptjoppie, gebakte aartappels, pampoentert en roomys en sjokoladesous nie lekker inpas nie.

Alles in hulle lewe word aangepas om in te pas by hulle lewe as fietsryers. As jy heel bo-aan die lys wil wees, as jy onder die bestes van die bestes getel wil word, moet jy jou hele lewe voltyds aan die sport wy.

Sien jy ook dat die laaste 10 woorde van die sin eintlik Bybelse taal is: “… moet jy jou hele lewe voltyds aan die sport wy”. Dit sluit 100% by Paulus se woorde aan: 3God wil hê julle moet julle lewe voltyds aan Hom wy.

God wil hê ons moet ’n lewe leef waar ons 100% op Hom fokus. Hy wil hê dat ons ons leefstyl so moet aanpas dat ons al hoe nader aan Hom kom. Soos die fietsryers moet ons fokus en oefen, moet ons opoffer en nie doen soos die mense van die wêreld nie. Nee, ons moet seker maak dat ons die regte kos inneem, op die regte plekke energie bymekaarmaak om die resies suksesvol te voltooi.

Ons het Christenskap erg afgewater. Ek verstaan dat Jesus klaar vir ons sondes gesterf het, maar uit dankbaarheid daarvoor kan ons nie anders as om ons gedrag aan te pas om Jesus bly te maak nie. Saam met die verlossing kom daar ’n wil en ’n roeping om ons lewe voltyds vir God af te sonder.

Dit verg inspanning. Dit verg keuses wat nie maklik is nie. Keuses waar ons soms kies om teen die stroom te swem en nie noodwendig die pad van die minste weerstand te kies nie. Keuses wat ons maak om genoeg tyd elke dag by God se voete te gaan sit, sodat ons energie uit sy Woord kan tap. Sodat ons genoeg petrol bymekaar kan maak om elke dag suksesvol te voltooi.

Hier is vir ons elkeen nog baie werk. Kom ons maak ’n commitment en maak planne om ons lewenstyl aan te pas om meer en meer afgesonder vir God te wees.

Teks

1 Tessalonisense 4:1-8

Om oor na te dink

Hoeveel van jou is werklik afgesonder vir die Here?

Waar is jy nog nie aan God toegewy nie?

Hoe kan jy dit verander?

Gebed

Ons Vader, hoe sukkel ons tog nie om U eenvoudige voorskrifte na te kom nie. Ek moet bely dat ek nog baie werk nodig het om heeltemal aan U toegewy te wees. Wys my waar ek nog moet verander en gee my die krag om dit te doen. Amen.

track

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 76 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *