As ander mense makliker asemhaal

As ander mense makliker asemhaal
Hallo

Francois (skuilnaam) stuur vir my die volgende:

Op RSG het ’n sielkundige die volgende uitdrukking gebruik wat my nogal hard laat dink het: “Wees die tipe mens dat, wanneer iemand van jou af wegloop, hy gemakliker asemhaal.”

Die wêreld daar buite druk ons dat ons oë traan. Mense se bene bewe van al die druk. Hoeveel van die druk maak ons ligter omdat ons liefhet?

10Ek weet julle is regtig lief vir al die gelowiges daar in die provinsie Masedonië. Maar, my liewe broers en susters, ek vra julle baie ernstig, gee asseblief nog meer vir ander gelowiges om.

Dit is voor die hand liggend dat ons vir mekaar sal lief wees. Nee, vra Paulus, ons moet nóg meer vir mekaar lief wees.

Wat beteken dit? Het ek té gewoond geraak aan lief wees vir my mede-Christene dat ek nie eintlik meer vir hulle lief is nie? Of doen ek maar net genoeg sodat dit nie te veel van my vat nie?

Ja, natuurlik is ek lief vir my mede-Christen en eintlik my medemens ook, maar die vraag is of dit my eintlik iets kos. Is dit nie dalk die vraag wat Paulus hier vra nie? Gee ons net soveel totdat dit iets van ons vra en dan hou ons liewer op? Want sien, ons is eintlik baie besig om ons eie lewe aan die gang te hou. Hoe moet ons nog tyd maak om vir ander mense ekstra liefde te gee?

Ons bepaal die liefde wat ons vir ander gee. Ons bepaal die hoeveelheid en die tyd wanneer ons beskikbaar is om liefde uit te deel en die meeste van die kere is dit wanneer dit ons pas. En dit is seker menslik om dit so te doen. Maar wanneer ons die liefde só afmeet, stap ons net die eerste myl saam en nie die tweede een nie.

Wanneer Paulus versoek dat ons regtig moet omgee, gaan dit oor die tweede myl wat ons moet stap. Dit is hier waar jy nou al begin moeg word, waar dit nie eintlik meer lekker is om te help nie en waar jy eintlik jou eie ding wil doen in jou eie tyd. Dis hier waar God wil hê dat ons as Sy kinders juis inklim en ten spyte van, stééds liefhet.

Miskien word ons hier gekonfronteer om vir ’n slag die liefde wat ons sê ons het, die liefde wat ons in ons harte dra, sal uitleef sodat ander dit aan hulle lyf kan voel en sodat God se boodskap van liefde sigbaar en tasbaar sal word. Dan sal Sy Naam daardeur verheerlik word.

Ek probeer nou hard om aan ’n voorbeeld te dink waar ek die afgelope week ’n tweede myl gestap het en dit is vir my sleg om te erken dat ek nie aan een kan dink nie. Miskien gaan dit beter met jou.

Die Woord van God roep duidelik na ons vandag: Gee asseblief nog meer vir ander gelowiges om.

Maak ’n verskil.

Maak planne.

Gaan soek ’n plek waar jy van jou kosbare energie kan gaan afstaan om nog meer om te gee, om nog meer ’n verskil te maak sodat wanneer ander van jou af wegstap hulle ligter sal asemhaal.Teks

1 Tessalonisense 4:9-12

Om oor na te dink

Waar kan ander jou liefde sien?

Waar moet jy nog liefde gaan saai?

Of dalk ’n tweede myl stap?

Gebed

Vader, soos die gelowiges in Tessalonika, wil ek vra dat my liefde vir ander mense steeds elke dag meer en meer sal word. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 4
10Ek weet julle is regtig lief vir al die gelowiges daar in die provinsie Masedonië. Maar, my liewe broers en susters, ek vra julle baie ernstig, gee asseblief nog meer vir ander gelowiges om.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 75 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *