Gear af

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Gear af
Hallo

Wanneer my tannie vir ons kom kuier, val sy saans moeg langs my neer op die bank. As ek haar dan vra na haar moegheid, sê sy altyd dat sy pootuit is net deur na ons te kyk. Dis op en af die heeldag. Die een afspraak na die ander. Dis kinders rondry, Skype afsprake en mense met seer wat gehelp moet word.

Vir my is dit doodnormaal en eintlik hoe dit hoort. Maar toe ek ’n tydjie stil raak en na myself kyk deur my tannie se bril, sien ek ’n ander prentjie. Ons hol dat die biesies so skeef staan en ons dink dis normaal. Ek vermoed dis nie hoe God dit bedoel het nie. Selfs Paulus dink ons moet so bietjie minder spoed bymekaarmaak: 11… Leef rustig en sorg self vir julle gesin.

Die eerste opdrag is: Gear af! Raak vir my rustig! Julle hol net. Julle hol julle lewe om en mis eintlik alles. In die vinnige baan van die lewe is altyd nog mense wat té vinnig lewe en alles saam met jou mis.

Ek word gevra om ’n artikel te skryf vir ’n boek met die titel: Te besig met besigwees. Ek skryf as volg:

Ek jaag na my volgende afspraak. My selfoon lui. Ek is klaar laat en antwoord terwyl ek bestuur. Saggies, dog ferm, word ek ingelig dat die spertyd vir die inhandiging van my teks meer as ’n week gelede was. Ek kan nie lekker hoor nie en vra beleefd: “Vir watter boek is dit nou weer?” Die dame sê weer: “Ek is te besig.” Ek wou iets sê, maar besef dat ek myself reeds in ’n hoek vasgeverf het.

Ek kyk na my lewe die afgelope tyd en ja, ek is te besig. En die ergste van alles is dat ek ’n goeie rede daarvoor het. Ek lê nie rond nie. Ek loop nie rond nie. Ek werk. Maar die netto effek is dat ek nie meer tyd vir myself het nie. Ek het nie meer tyd vir my familie nie. My vriende kort ook ’n goeie kuier. En God?

Ek laat sak my kop in skaamte. Ek is té besig.

Terwyl ek dink oor hoe ’n mens uit so ’n spiraal kan kom, onthou ek die verhaal van Martin Luther se sekretaris wat by hom gekom het om die volgende dag se besige program te bespreek. Om alles vir die dag in te pas, het die sekretaris voorgestel dat Luther sy persoonlike stiltetyd effens moet verkort. Martin Luther se reaksie: “Ek het so baie om te doen dat ek drie ure in gebed gaan deurbring sodat ek effektief deur alles kan kom.”

Besig is nie God se idee nie. Nee, God se idee is rustig. Leef rustig. Ruik die blomme. Sien die berge en see raak. Ons moet afgear. En saam met al die ander vra ek ook: Hoe? Die lewe druk van alle kante en daar is nie eintlik enige ligte wat in die donker tonnel aangeskakel is nie.

Ek wens ek het die antwoorde, maar ek sukkel ook daarmee. Dalk moet ons net begin om eers by God uit te kom, want ek vermoed die antwoorde lê juis daar waar ons stil en rustig raak. God wil ons wys hoe ons spoed moet verminder.

Teks

1 Tessalonisense 4:9-12

Om oor na te dink

Hol jy?

Hoe gaan jy rustiger word?

Waar gaan jy die tyd kry?

Gebed

Vader, ek weet ek hol te veel agter die wind aan en ek sukkel om geduldig op U te wag. Help my om rustiger te leef en U raak te sien in die mense en die natuur rondom my. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 4
10Ek weet julle is regtig lief vir al die gelowiges daar in die provinsie Masedonië. Maar, my liewe broers en susters, ek vra julle baie ernstig, gee asseblief nog meer vir ander gelowiges om. 11Leef op so ’n manier dat ander mense vir julle respek sal hê. Leef rustig en sorg self vir julle gesin. Verdien julle geld deur self daarvoor te werk. Ek het hierdie dinge vir julle gesê toe ek by julle was.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 50 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *