Met ’n hart vol liefde

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Met ’n hart vol liefde
Hallo

In die afgelope paar teksverse het ons gehoor dat ons deel is van ’n oorlog. Die eeu oue oorlog tussen goed en kwaad. Die duiwel probeer sy bes om ons weg te rokkel van God. Hy probeer ons die heeltyd versoek en verlei. Met gekamoefleerde versoekings kom daag hy by ons deur op en probeer om ons om die bos te lei.

As ek so terugkyk oor my lewe, sien ek baie plekke waar hy met ’n groot rooi appel voor my gestaan het. Hoe mooi en lekker het daardie appel en wêreldse plesiere nie gelyk nie. Ek wens ek kan sê dat ek elke keer sterk gestaan nie, maar ai, daar was kere wat ek gefaal het en die oorlog verloor het. Ek vermoed seker jy ook?

Ons moet voorbereid wees vir die aanvalle. Soldate gaan nie net deur goeie opleiding nie, maar trek ook reg aan vir die oorlog. Jy kan nie met jou kerkklere by die oorlogsveld opdaag nie. Dit sal nie werk nie.

Ek sien die manne wat die buurt vir ons beskerm dra almal koeëlvaste onderbaadjies. Juis om die belangrikste organe te beskerm.

Wanneer jy die lewe ingaan, moet jy die regte klere vir die geestelike oorlog aantrek. Die klere moet jou belangrikste dele beskerm. Daarom is ’n borsharnas so belangrik – dit moet jou hart beskerm. Soos twee hande moet geloof en liefde jou hart vashou en beskerm dat die swaard van die vyand dit nie beetkry nie.

Ons moet seker maak dat ons geloof sterk genoeg is. Ons moet presies weet waarin ons glo, want as jy nie op die slagveld duidelik weet waarin jy glo nie, gaan die vyand met jou kop smokkel en jy gaan die stryd verloor. Met alles in jou moet jy glo en seker weet dat God jou Vader is en jou ontsettend liefhet. Soveel so dat Hy Sy Seun gestuur het om die straf vir jou sondes te dra sodat die hekke van die hemel vir jou oopstaan.

Die ander gedeelte van die borsharnas bestaan uit die liefde. 8…Geloof en liefde is die eerste spesiale wapen wat die Here vir ons gee om ons hart soos ’n pantser te beskerm. Waar liefde is, het die vyand geen kans nie. Soos ons wegskram van ’n ligstraal wat ons oë verblind, so skram die bose weg as daar liefde is. Hy kan dit nie vat nie. Liefde is net mooi die teenoorgestelde van die haat waarvan hy so baie saai.

Wanneer liefde uit ons harte vloei, wanneer ons omgee, wanneer ons opoffer en ’n stuk van onsself vir ander gee, is die oorlog gewen en het die vyand verloor. Is daar ’n stuk klip in jou hart? Is jy net op jouself ingestel en jy sien nie die nood van ander raak nie? Vertel jou dade nie altyd ’n storie van omgee en uitreik en liefde nie? Dan moet jy pasop. Jou belangrikste orgaan is oop en bloot om deur die vyand uitgeruk te word.

Om lief te wees is eintlik so ’n maklike opdrag en tog sukkel so baie van ons daarmee. Dis asof die eie ek aanmekaar tussenin kom indruk. Ons het versterkings nodig. Ons het nodig dat God se Gees ons moet help. Kom ons bid en sing saam met St Franciscus van Assisi en maak die gesang deel van ons wese:

Laat, Heer, U vrede deur my vloei…

waar haat is, laat ek daar U liefde bring:

Laat ek in pyn en smart vertroostend wees

en krag gee deur geloof in U, o Heer.

O Heer, help my om altyd so te leef –

om ander hoër as myself te ag,

ja, om lief te hê – ander bo myself –

en ook eerder te gee as te verwag.

 

Laat, Heer, U vrede deur my vloei…

en laat ek hoop gee waar daar twyfel is.

Ek wil U lig in duisternis laat skyn.

Laat ware vreugde altyd uit my straal.

O Heer, help my om altyd so te leef –

om ander hoër as myself te ag,

ja, om lief te hê – ander bo myself –

en ook eerder te gee as te verwag.

 

Laat, Heer, U vrede deur my vloei…

leer my om ook soos U te kan vergeef.

Maak my bereid om aan myself te sterf,

dat ander U al meer in my kan sien.

 

Sjoe, dis mooi. Die uitdaging is om dit nou deel van my hart, hande en voete te maak…

Teks

1 Tessalonisense 5:4-11

Om oor na te dink

Hoeveel vrede vloei deur jou?

Hoeveel liefde bring jy na die tafel?

Is jou hart beskerm?

Gebed

Vader, ek besef dat ek my hart ooplaat vir die vyand. Ek vra, Here, om my te help om meer lief te hê en liefde te leef. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 5
8Gelukkig het die Here ons uit ons slaap wakker gemaak. Ons is dagmense wat die Here se spesiale wapens moet aantrek.
Geloof en liefde is die eerste spesiale wapen wat die Here vir ons gee om ons hart soos ’n pantser te beskerm. Ons moet al ons vertroue in God stel om ons te lei. Die tweede wapen wat die Here ons gee, is ’n vaste oortuiging hier binne-in ons dat ons onderweg is na die Here se wêreld. Dit pas soos ’n sterk helm op ons kop.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 165 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *