Nie meer deur die mis

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Nie meer deur die mis
Hallo

Ek onthou nog die dae toe ek as student vir Interkaap bus gery het. Saans ry ek aguur uit die Kaap om die volgende oggend sesuur in Port Elizabeth te wees. Die volgende aand weer aguur daar weg om weer vroegoggend in die Kaap aan te kom. So het ek elke dag gedurende my vakansies gery.

Dit was lekker en ek was nie bang om die groot monster in die pad te hou nie, maar ek het altyd gevrees vir die mis vroegoggende hier oor die Rûens, dis nou verby Caledon tot in Swellendam. Die mis is so dik dat jy net drie strepe in die pad voor jou kan sien. Dit help nie om jou ligte op brights te sit nie, want dit skyn net in die mis vas en verblind jou oë.

Ons kon ook nie juis stadiger ry nie, want dan is jy laat in die Kaap en dan is daar moeilikheid. Ek het gevrees vir iets wat sonder ligte in die pad staan of ’n dier wat deur ’n draad kon kom. Ek onthou nog dat ’n bus wel in digte mis een keer ’n bees gestraf het. Jy kan nie glo dat ’n bees soveel skade aan ’n bus kan uitrig nie.

As jy dan uiteindelik deur die mis gebreek het en die son skyn helder, slaan  verligting mens plat en jy is dankbaar dat jy weer vêr kan sien. Alles lyk sommer so helder en skoon. So asof jy nou net wakker geword het van ’n vreeslike nagmerrie.

En dis presies wat God kom doen het. God het ons kom wakker maak. God het ons uit die mislike lewe van nagmerries kom haal. God het ons uit die lewe van ’n mistige wêreld waar mense rondploeter en geen rigting het nie, kom haal. Nou hoef ons nie meer gespanne te wees nie. Nou hoef ons nie meer bang te wees iets daag voor ons op en ons kan niks daaraan doen nie. Spreekwoordelik is ons nou nie meer deur die mis nie, want God het ons daaruit kom red.

Dankie tog!

8Gelukkig het die Here ons uit ons slaap wakker gemaak. Ons is dagmense…

Dis darem soveel beter om wakker te wees en die rose te ruik. Dit is soveel beter om presies te weet waarheen jy op pad is en dis nog beter om dié pad te sien. Deur Jesus (wat ook die lig en Lig is) het God vir ons uit die donker naglewe kom red en ons gebring tot in die daglewe. Hier waar ons kan sien, maar ook waar ander vir ons kan sien.

Dis soveel beter om te sien en om nie in vrees te lewe vir wat dalk hier uit die nag na ons kant toe aangesluip kan kom nie. Ons kan presies sien waarheen ons op pad is en ook waar die pad is. Ons moet nou net seker maak dat die manier waarop ons lewe by dagmense pas.

Ja, ons moet seker maak dat die manier waarop ons lewe by ’n dagmens pas.

Teks

1 Tessalonisense 5:4-11

Om oor na te dink

Pas al jou dade in die dag?

Watter dade pas in die nag?

Wat moet jy doen om ’n dagmens te word?

Gebed

Vader, soms pas ons dade nie lekker in die dag nie en is dit maar eerder ’n gekonkel in die donker. Ons wil dit nie so hê nie. Help ons en lei ons op die pad van die lig. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 5
8Gelukkig het die Here ons uit ons slaap wakker gemaak. Ons is dagmense wat die Here se spesiale wapens moet aantrek.
Geloof en liefde is die eerste spesiale wapen wat die Here vir ons gee om ons hart soos ’n pantser te beskerm. Ons moet al ons vertroue in God stel om ons te lei. Die tweede wapen wat die Here ons gee, is ’n vaste oortuiging hier binne-in ons dat ons onderweg is na die Here se wêreld. Dit pas soos ’n sterk helm op ons kop.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 48 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *