Staaldak met ’n vaste wete

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Staaldak met ’n vaste wete
Hallo

Nou die dag kom my seun hier ingestorm en hy lyk te koddig. Hy het my staaldak (soos ons dit genoem het) van my weermag dae op sy kop en die bandjies wat die staaldak bo hou, swaai heen en weer langs sy gesig. Sy kop is heeltemal te klein en hy moet omtrent sy hele lyf heen en weer swaai om sy balans te hou sodat die staaldak nie afval nie. “Dit is my staalhelm wat ons omtrent dag en nag in die weermag moes dra vir beskerming van ons kop.”

En toe ek sien sy gesig skiet vol vrae, vertel ek hom van hoe belangrik dit is om ’n staaldak of staalhelm te dra. As daar iets met ons kop gebeur, is dit gewoonlik fataal en die vyand weet dit goed. Daarom moet ons die sterkste yster gebruik om dit ten alle koste te beskerm.

Dis so belangrik dat ons in die geestelike oorlog ook ’n staaldak dra. In die geestelike oorlog moet ons seker maak dat ons kop nie oop en bloot vir die vyand uithang om ’n teiken te wees nie. 8… Die tweede wapen wat die Here ons gee, is ’n vaste oortuiging hier binne-in ons dat ons onderweg is na die Here se wêreld. Dit pas soos ’n sterk helm op ons kop.

So tussen hakies: Ek dink dis dalk nie heeltemal korrek om die dra van ’n helm of staaldak ’n wapen te noem nie, want dit is eintlik net daar vir die beskerming. Aan die anderkant, as al jou koeëls op is, kan jy seker die vyand daarmee gooi… Maar dit daar gelaat. Ek’s alweer van die storie af.

Die vyand gaan in die oorlog met ons kop smokkel om ons van die pad af te kry. Mense met lang stories oor die ouderdom van die aarde, oor die skeppingsverhaal, oor Jona en die vis, oor Jesus se maagdelike geboorte, oor doop en wat nog als gaan jou anders probeer oortuig. Mense gaan sê dat die mens graag perfek wou wees en toe vir hom ’n magiese persoon staangemaak het en nou na hom streef. Toe noem die mens hom God.

Vir die soort aanvalle het ons ’n sterk staaldak nodig. Ons moet ’n vaste vertroue hê, ons moet vas glo in die verlossing van Jesus Christus. Jesus het vir die straf van ons sondes aan die kruis gesterf. Daarom hoef ons nie weer vir die straf van ons sondes pa te staan nie. Hieraan moet ons vashou soos klitsgras aan ’n wolkombers. Geen aanval van die duiwel moet ons hier laat wonder nie.

As hy dan vra hoekom glo jy so, is die antwoord baie eenvoudig: “Want die Bybel sê so!” En as hy dan weer kom om nog vrae te gooi, maak soos my vriend altyd maak. Wys hom die hand, soos ’n mens maak om ander te stop en sê: Speak to the handJy het klaar gepraat.

Laastens: Dis interessant om te sien dat die eerste twee wapens geloof en liefde met die hart te doen het en dat hoop op verlossing te doen het met ons brein. Met ons denke en verstand.

In die oorlog moet ons seker maak dat ons hele wese reg is vir die oorlog. Op al die fronte moet ons gereed wees, want dan sal die vyand nie ’n kans hê nie.

Om oor na te dink

Hoe lyk jou staaldak?

Glo jy in Jesus se verlossing?

Op watter fronte word jy aangeval?

Gebed

Vader, ek weet van aanvalle en die bose wat probeer om met my kop te smokkel. Help my om nooit te twyfel dat Jesus ook my Verlosser is nie. My hoop lê in die  vaste wete dat U my Redder is. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 5
8Gelukkig het die Here ons uit ons slaap wakker gemaak. Ons is dagmense wat die Here se spesiale wapens moet aantrek.
Geloof en liefde is die eerste spesiale wapen wat die Here vir ons gee om ons hart soos ’n pantser te beskerm. Ons moet al ons vertroue in God stel om ons te lei. Die tweede wapen wat die Here ons gee, is ’n vaste oortuiging hier binne-in ons dat ons onderweg is na die Here se wêreld. Dit pas soos ’n sterk helm op ons kop.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 83 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *