Geduld, o, geduld!

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Geduld, o, geduld!
Hallo

Ek wonder waar kom ons ongeduld vandaan. Is dit deel van die sondeval?

Kyk né, as jy in ’n dorp bly waar die verkeer maar rof is, moet jy die heeltyd jou oë oophou. Vir slaap is daar nie tyd nie. As jy by die verkeerslig wil regs draai en die lig slaan groen, ry jy mos so vêr as moontlik binne die kruising in sodat soveel as moontlik karre agter jou kan inkom. As die lig dan oorslaan, kan al die karre nog draai om die kruising weer skoon te maak.

As die tannie in haar tjor dan hier by die wit streep sit en wag vir die aankomende verkeer om verby te gaan, stoom ek, want soos dit omtrent elke keer gebeur, slaan die lig oranje net na die laaste motor verby is. Net die Tannie kan dan oorglip en ek moet wag vir die volgende rondte groen ligte. Dan het my geduld heeltemal die pad gevat.

Dis dalk nie so ’n goeie voorbeeld nie. Ons elkeen het ietsie wat ons geduld toets en dikwels die pad laat vat. Ek besef maar net te goed dat baie van ons ’n streep ongeduld in ons het. Tog is dit nie ’n rede of verskoning om ongeduld in ons lewe kos te gee nie.

O ja, nou onthou ek nog ’n groot bron van frustrasie wat dikwels aanleiding gee tot ’n ligte oorloggie. My vrou en IT. Ons doen al vir maande radio-opnames hier in ons huis. Ons gebruik ’n redelik eenvoudige verwerkingsprogram, maar my vrou kry dit omtrent elke keer reg om êrens vas te haak. Wanneer sy dan mismoedig uit die opname-kamer roep vir hulp, stoot my ongeduld tot bo, want ek kan nie verstaan waarom sy so dikwels die eenvoudige verstellings vergeet nie.

Ek moet bieg: Ek storm dan na die opname-kamer met my geduld wat net hier in die studeerkamer agtergebly het. As ek terugkyk na my manier van doen, besef ek dat ’n mens nie met liefde en deernis kan optree as jou geduld iewers agterweë bly nie. Inteendeel – jy’s ’n ware bullebak wat op ander trap!

Ai, hoe lekker preek ek nou vir myself.

Geduld is deel van die eienskappe van ’n Christen. Net jammer dat ons so maklik daarsonder in plekke instorm en verwoesting saai.

14…Wees geduldig met almal met wie julle te doen kry.

Hier duik baie van ons gereeld in die hek. Ek vermoed dit is omdat ons nie die ander persoon en sy of haar gevoelens in ag neem nie. Ons moet ons ongeduld begrawe. Ons moet doelbewus na die ander stap, ja, ek ook as my vrou my wéér oor ’n onnodige IT-ding wil vra, en die eie ek op die agtergrond skuif.

Maak seker dat jou geduld in aksie is oral waar jy met ander te doen kry. Maar weereens kan ons dit nie op ons eie doen nie. Daarom moet ons elke oggend genoeg tyd maak om stil te word.

Ons moet toelaat dat ons geestelike batterye genoeg gelaai word om ons deur die dag te neem en ons moet plek maak vir die leiding van die Gees. Hy is koning op die gebied van geduld. Kyk net na al die geduld wat Hy met jou het!

Teks

1 Tessalonisense 5:12-15

Om oor na te dink

Waar duik jou geduld?

Wie is gewoonlik verantwoordelik daarvoor?

Hoe moet jy anders maak met geduld?

Gebed

Vader, ek moet bieg dat ek té gereeld my geduld agterweë laat. Ek weet geduld is ’n vrug van U Gees wat in my woon, daarom is dit wel moontlik om met U hulp altyd verdraagsaam en geduldig te wees teenoor almal. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 5
14Ek wil julle ook daaraan herinner dat julle ’n plig het teenoor ander Christene. Praat Christene wie se geloof klein is moed in. Ondersteun die gelowiges wat nog nie mooi verstaan waaroor ons geloof gaan nie. Wees geduldig met almal met wie julle te doen kry.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 90 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *