Gesels met ander – dis dalk hulle antwoord

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Gesels met ander – dis dalk hulle antwoord
Hallo

Ek onthou nog die dae toe ek in die besigheidswêreld was. Daar was altyd iets aan die gang. Sodra jy dink vandag is die dag om agterstallige werk op te vang, gebeur daar iets wat die tyd met sulke groot hompe opvreet. Dit is ’n bestelling wat dringend moet uit of ’n masjien wat breek of die verskaffer het nie kom aflaai nie en die hele fabriek word tot stilstand gedwing weens ’n part wat die gees gegee het.

In sulke omstandighede is dit moeilik om mense en hulle behoeftes eerste te stel. Ek onthou spesifiek een van vele sulke dae. Ek het die vorige dag reeds ’n afspraak met een van die personeellede gemaak, omdat ek vir ’n wyle al gesien het daar is fout. Ek kon sien iets druk hom geweldig. Vroegoggend het ons mekaar ontmoet vir koffie en na ’n lang gesprek het baie van die goed binne en buite die werk uitgekom en ons kon daaroor praat. Ek dink hy is ligter daar weg.

Kort daarna is ek weer haastig oppad iewers heen, maar ek sien toe een van die dames in ’n hopie sit met ’n rol toiletpapier in die hand en staar na haar skerm. Eintlik het ek nie tyd gehad om te hoor wat fout is nie, maar ek doen dit tog en loer by haar in.

Ek het nog niks gesê nie, toe loop die trane. Sy is in ’n groot gat. Ek skuif ’n stoel nader en luister. Ek sê nie veel nie. Maar toe ek gaan, weet ek dit was die regte ding om te doen om vir ’n wyle by haar stil te staan.

Op ’n manier het ek in ander se lewens ’n verskil gemaak. Op ’n manier kon ek met hulp van bo die vers prakties in my lewe uitleef: 11Julle moet asseblief met mekaar gesels oor al die dinge wat ek nou vir julle gesê het. Praat mekaar moed in. Ek weet julle doen dit. Maar hou asseblief daarmee aan!

Ons moet op ons eie skewe maniere die evangelie laat grondvat daar waar ons in die wêreld leef. En die idee is nie om versies uit ons kop te leer en dit op te sê en te dink nou is alles weer klopdisselboom nie. Ons moet eerder opregte belangstelling toon en ondersteun.

By albei persone kon ek ’n stuk van God se verlossingsboodskap gebruik om ’n paar boeie oop te sluit.

Ons hoef nie teoloë te wees om die Bybel te kan gebruik om ander te help nie. Deur net jou eie ervaring te deel, maak jy ’n verskil en bring jy hoop vir ander.

Dalk dink jy dat jou lewe nie goed genoeg is om as voorbeeld te gebruik om ander op die verlossingspad te help nie, maar dink weer. Dit hang nie van jou af of jy ander daardeur kan help nie, maar van die Heilige Gees! Deur juis eerlik te wees en jou probleem te deel, kan die ander persoon daarmee identifiseer.

Moet nooit die werking van die Heilige Gees onderskat nie. Eintlik soek Hy net ’n voertuig om ’n stuk bagasie by die een wat daar langs jou werk te gaan haal. Die Heilige Gees is die een wat die werk doen. Die Heilige Gees soek net jou bereidheid. Hy doen die res.

Ek het al dikwels gaan stilsit en met verwondering die mense dopgehou wat ’n uur of twee tevore uitmekaar geval het en nou met soveel selfversekering weer voor ’n klomp mense ’n aanbieding kan doen. Dis die Heilige Gees wat so maak.

Tog is ons bang om oor die goed te praat, want dalk maak ons ons naam krater of die ander een lag ons uit. Weet jy dat die ander eintlik smag om te hoor hoe jy ook sukkel en hoe jy planne maak om deur alles te kom? Mense wíl hoor, al maak hulle teenoor ander alles af as snert. Moenie stilbly oor die manier waarop jy saam met God stap nie. Dit is dalk net die antwoord wat die ander langs jou al vir so lankal soek!

Om oor na te dink

By wie in jou lewe moet jy gaan stilstaan?

Hoe kan jy die Here se stem wees?

Is jy bereid om dit te doen?

Gebed

Vader, ek besef my verantwoordelikheid dat ons ander moet moed inpraat. Daar is soveel van my vriende wat nodig het om U boodskap deur my te hoor. Jammer dat ek dit nie genoeg doen nie. Wys my waar U my nodig het. Ek sal gaan en my bes probeer om ’n verskil te maak. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 5

11Julle moet asseblief met mekaar gesels oor al die dinge wat ek nou vir julle gesê het. Praat mekaar moed in. Ek weet julle doen dit. Maar hou asseblief daarmee aan!

Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 54 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *