Jy word gesoek

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Jy word gesoek
Hallo

Ettienne (skuilnaam) vertel ’n kort stukkie uit sy lewe:

Ons het PE toe getrek met ’n baie groot droom om miljoene te maak en die stadslewe te geniet. Ek het by die atletiekklub aangesluit en vir Attie (skuilnaam) ontmoet. Hy was ’n ware Christenvriend wat my na die Here gelei het.

Ek is kerk toe, want ek wou dieselfde hê. Ek lees toe in die Bybel dat as jy bid, gee God, maar toe word ek ontnugter. Jy kan nie die Comrades hardloop met ‘n halfuur se oefening per dag nie. Jy moet jouself, jou tyd, jou familie en alles verander.  Jy moet soek waar God rondom jou besig is en daarby aansluit.

Dinge het baie sleg begin gaan. Jan het toe by ons huis kom kuier. Ek het baie vrae gevra. Ek het my dan bekeer en God het gesê Hy sal voorsien? 

Net die volgende dag verloor ons alles! Ek en my vrou het op die vloer gaan sit en in plaas van baklei en verwyte gooi, het ons gebid. Ons het begin om nader aan mekaar te lewe en ons het as ’n familie saam begin bid, soggens en saans.

Ons het verlede jaar ‘n huiskerk met ’n paar vriende begin. Jan het ons in ’n rigting gestuur. God het begin wonders doen. God het vir Jan en Attie op ons pad gebring.

Dit was ’n moeilike jaar en ek het gevoel dat niemand raaksien wat ek doen nie. Attie het egter vir my gesê: “As jy iets doen, moet jy dit doen asof jy dit vir die Here doen.” Dit is nou my motto, want dit is hoe ons elke dag die lewe moet leef.

Met volle geloof, vertroue en volharding het God voorsien. God het my beste ribbeen gevat en vir my ’n vrou gegee wat my help om op my knieë te bly.

Dis drie jaar later en God het die poorte oopgemaak – nie in geld nie, maar in geloof.

En so is daar baie Ettiennes met byna dieselfde storie. Ouens wat êrens in hulle lewe vasgeval het en nie geweet het hoe vorentoe nie. Heeltemal ontnugter. Toe stuur God ’n paar Janne en Atties om die Ettiennes op die pad te help, om hulle moed in te praat en te help om by hulle onderskeie roepings in die lewe uit te kom.

Daarom die opdrag van Paulus: 14Ek wil julle ook daaraan herinner dat julle ’n plig het teenoor ander Christene. Praat Christene wie se geloof klein is moed in. Ondersteun die gelowiges wat nog nie mooi verstaan waaroor ons geloof gaan nie. Wees geduldig met almal met wie julle te doen kry.

Elkeen van ons moet ’n Jan of Attie of San of Santie wees. Ons moet weet dat elkeen van ons ’n plig teenoor ons mede-Christene het. Ons moet mekaar moed inpraat. Ons moet mekaar help met ons geloof. Ons moet geduldig wees, want dalk is ons die een wat die laaste kans het om iemand anders te help. Ons is dalk net die een wat God in iemand anders se lewe wil gebruik.

En nee, jy hoef nie ’n graad in teologie of sielkunde te hê nie. Net soos jy is, met al jou foute, wil God jou gebruik. Staan op en doen vandag die regte ding. Maak ’n verskil in ander se lewens deur beskikbaar te wees vir God. Al is jy ’n krom stok, Hy sal ’n reguit hou slaan.

Teks

1 Tessalonisense 5:12-15

Om oor na te dink

Besef jy dat jy ’n verantwoordelikheid teenoor ander het?

Wat kan jy vir ander doen?

Vir wie moet jy vandag help?

Gebed

Here, ek besef ek het ’n groot verantwoordelikheid. Ek weet ek moet ander help, maar voel so onbeholpe. Soms is ek selfs bang. Maak asseblief my oë oop sodat ek kan sien waar U my wil gebruik. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 5
14Ek wil julle ook daaraan herinner dat julle ’n plig het teenoor ander Christene. Praat Christene wie se geloof klein is moed in. Ondersteun die gelowiges wat nog nie mooi verstaan waaroor ons geloof gaan nie. Wees geduldig met almal met wie julle te doen kry.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 84 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *