Giepie, ’n polisieman van Oshakati in Oshana, Namibië, skryf vir my:
Een oggend was my arm seer. Ek gaan toe na die Staatshospitaal waar ‘n jong weermag-dokter aan diens was en ek kla by hom oor my arm.
Hy nooi my toe om saam met hom te stap. Hy neem my toe na die ongevalle afdeling waar die pasiënte vir behandeling wag. Daar was meestal mense wie in landmynontploffings was. Hulle was sonder arms, sonder bene, stukke van hulle gesig was weg …
Nadat ek hulle gesien het, was my arm nie meer seer nie.
Dit was in 1985, maar ek onthou dit asof dit gister was.
Ek praat met ’n vriend oor hoe geseënd ons is en hy haak af: Ja, ons kla met ’n bakkery onder elke arm. Ons ontvang so baie. Ons lewe in die skaduwee van God se genade. Elke dag. Ons moet bly wees. Ons moet elke oomblik van die dag oorloop van dankbaarheid. Dis tog die opdrag.
18Wees heeltyd dankbaar teenoor God, wat ookal met julle gebeur. Dan stap julle op die pad wat God vir julle beplan het toe julle in Christus Jesus begin glo het.
Die dankbaar gedeelte is maklik, maar die tweede gedeelte is nie so maklik nie: … wat ookal met julle gebeur. Hoe kan ek dankbaar wees as ek my werk verloor? Hoe kan ek dankbaar wees as my geliefde net so sterf? Hoe kan ek dankbaar wees vir kanker of ’n ander siekte wat na my kant toe gekom het? Hoe kan ek dankbaar wees as die lewe my druk dat my oë traan? Hoe kan ek dankbaar wees as …?
Ek kom agter ons sukkel met dankbaarheid, omdat ons dit op verkeerde plekke soek. Ons dankbaarheid moenie bepaal word deur dit wat ons het nie. Ons dankbaarheid moenie bepaal word deur aardse goed nie, maar deur dit wat ons in die hemelse bank het. Jesus het vir ons gesterf aan die kruis. Hy het vir ons die poorte van die hemel oopgesterf. Ten spyte van al ons sondes is daar volle vergifnis wanneer ons ons sondes erken.
Dit dryf ’n mens na totale dankbaarheid. As ons besef hoe effektief die reddingsplan van Jesus was en as ons besef hoe min ons dit eintlik verdien, kan ’n mens nie anders as om oor te loop van dankbaarheid nie. Dan kan die branders van die lewe maar slaan. Dan kan die een swaar na die ander ons tref, maar dankbaarheid sal vas bly staan. Wat ookal die omstandighede in hierdie lewe, dit raak nie my wins in die lewe hierna nie.
Dit is juis dié dankbaarheid wat ons help om deur elke krisis van die dag te kom. Dis juis dié dankbaarheid wat keer dat ons deur die swaar omstandighede ingesluk word. Dit is juis dié dankbaarheid wat ons nog steeds moed gee om aan te hou veg en op die ou end deur te druk.
Mag God se Gees aan ons wysheid gee. Mag Hy ons help om deur die krisis van ons lewe te beur, juis omdat ons dankbaar is. En laat ons dan sing:
As die lewenstorme woedend om jou slaan,
en jy gans ontmoedig vrees om te vergaan
tel jou seëninge tel hul een vir een en
jy sal verbaas wees oor wat God verleen.
Tel jou seëninge, tel hul een vir een,
seëninge jou deur God geskenk!
tel hul almal, kyk wat God verleen,
en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk!
As jy ooit gebuk gaan onder sorg en pyn,
as die kruis te swaar word en jou krag te klein –
tel jou seëninge, dan vlug twyfel heen,
en jy sien Gods goedheid laat jou nooit alleen!
Teks
1 Tessalonisense 5:16-22
Dink bietjie hieroor
Wat steel jou vreugde?
Hoeveel stiltetyd bring jy met God deur?
Waar vind jy jou dankbaarheid?
Gebed
Vader, dis nie vir my so maklik as al die donker wolke oor my begin saamtrek nie. Ek sukkel om in sulke omstandighede dankbaar te wees. Ek weet ek benodig ’n hoop wysheid en hulp. Help my! Amen.