Broodnodige goedheid en vrede

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Broodnodige goedheid en vrede
Hallo

Ek kry ’n verdwaasde e-pos van ’n vrou:

Gerjo Ben, jy het ’n e-pos vir my man gestuur. Hy het vroegoggend sy eie lewe geneem.

Het hy enigsins iets vir jou gesê? Ek het ongelooflik baie vrae. Hy het die Here regtig liefgehad met ’n passie en dit ook uitgeleef. Asseblief, enige iets sal my help.

Net hierna verskyn daar deur ons gebedsnetwerk ’n dringende versoek:

Bid vir my dat ek nie my eie lewe neem nie.

Via sy e-posadres kom ek by sy werk uit en kry sy selnommer. Ek bel hom dadelik: “Is jy oraait?” Dis nie ’n goeie tyd om te praat nie. Ek skryf later ’n e-pos. Die antwoord kort:

Ek volg jou raad.

Ek weet nie of ons besef hoeveel druk daar buite is nie. Ek weet nie of ons besef hoeveel mense geen lig sien nie. Mense wat regtig nie meer een tree vorentoe kan gee nie. Mense vir wie jy nie net ’n teksversie kan gee nie, want dié pleistertjie is net te klein om oor die groot gat in hulle lewe te plak.

Mense is broos en seer en alleen en onvrede pak ons toe. Ons bene bewe van die swaar laste wat ons moet dra. Sommige besluit om ’n einde aan alles te maak. Die gevolg is ’n pad van verwoesting vir die mense wat agterbly.

Ek is soms bang om iets te sê, want netnou is die teksvers rêrig te klein. Maar waar anders sal ons hulp gaan soek? Waar anders kom ons hulp vandaan? Dis net by God waar ons hulp kan kry. Dis net Hy wat ons kan help om deur die storms te beur. Dis net Hy wat ons kan help tot die waters bedaar.

Daarom bid ek met alles in my en ek beroep my op God se engele om saam te help om die gebed en seën in jou lewe waar te maak: 2God ons Vader en die Here Jesus Christus se oorvloedige goedheid en vrede is met julle.

Ja, mag jy oorspoel word met God se goedheid. Hoe het ons dit nie elke dag nodig nie! Hier waar ons gekonfronteer word met slegte goeters wat om elke hoek en draai gebeur – mense wat sommer net so op hulle plase doodgemaak word. Ander wie se hele lewe se spaargeld deur selfsugtige en geldgierige bedrieërs gesteel word. Huweliksmaats wat mekaar seermaak en weggooi vir ’n ander.

Ons hele wese smag na God se goedheid. Mag dit ’n realiteit word in jou lewe. Mag God help om die slegte goeters in jou lewe uit te vee en plek te maak vir al Sy goedheid sodat die son ook weer oor jou kan skyn.

Maar meer nog – mag God se vrede, daai vrede wat heeltemal te veel is vir ons om te verstaan, jou hele wese beset. Mag dit die onvrede wat tog so gedurig sy opwagting maak, verdryf.

Genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus vir jou. Nou!

Teks

2 Tessalonisense 1:1-2

Dink bietjie hieroor

Is daar vrede in jou gemoed?

Of woed daar storms?

Glo jy dat God ’n verskil kan maak?

Gebed

Here, ons het U goedheid so nodig. Ons het U vrede nodig – in oormaat. Ons smag daarna met elke asemhaling. Laat dit tog gou in ons lewe waar word. Amen.

Teksgedeelte: 2 Tessalonisense 1

1Van Paulus en Silvanus en Timoteus. Aan die kerk in Tessalonika: julle is die eiendom van God ons Vader en die Here Jesus Christus. 2God ons Vader en die Here Jesus Christus se oorvloedige goedheid en vrede is met julle.

Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 66 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *