God sal jou nooit drop nie

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
God sal jou nooit drop nie
Hallo

Ons is op ’n depressie bewusmakingstoer in Namibië. As toeris sien ’n mens die land anders. Jy hoor die bekommernisse oor die land se ekonomie en kan eintlik daarmee identifiseer, want in ons eie land loop die bekommernisse ook hoog. Ons weet nie presies waarheen ons eie land op pad is nie.

Tog hoor ons keer op keer dat mense hulself op God beroep. Hulle glo met hulle hele wese dat God hulle nie sal drop nie. Deur al die jare het God hulle gedra en hulle styf vasgehou. Deur dik en dun was God altyd daar. Hy sal ook deur die volgende krisis saam met hulle loop.

Die mense praat uit ondervinding. Hulle was al deur baie moeilike tye en elke keer het hulle daardeur gekom, want God het hulle nooit alleen gelos nie. Hulle geloof is rotsvas en hulle vertrou 100% dat God vir hulle sal deurkom. Daarom kan ons saam met Paulus sê: 3My broers en susters, ons dank God altyd vir julle. Hoe anders? Want die wonderlikste dinge is daar by julle aan die gebeur: julle vertroue in die Here word by die dag sterker. En julle almal se liefde vir mekaar word net al hoe groter.

Ons elkeen staan gereeld by ’n onsekere kruising in ons pad. Baie keer sonder enige antwoorde en met geen idee wat die toekoms inhou nie. Ons het dalk mooi ons sommetjies gemaak, maar waar ons nou staan, is elke liewe sommetjie verkeerd. Al wat seker is, is dat ons met ons hande in ons hare sit.

Hoe nou gemaak?

Ek gesels met ’n goeie vriend van my. Sy werk is om na ander mense se geld op die markte te kyk en aan te beveel waar hulle moet koop en wanneer hulle moet verkoop. Hy het sy sommetjies mooi gemaak, maar nou gebeur net mooi die teenoorgestelde met die rand teen die doller. Dit knaag aan hom.

Hoe nou gemaak?

Ek vermoed ons moet leer by die mense van Namibië. Ons moet leer by die jong Christene van Tessalonika. Ons moet op God vertrou. Ons moet toelaat dat ons vertroue in God al sterker raak. God sal ons nooit drop nie. Hy is standvastig en altyd dieselfde. Hy is die heeltyd by ons en sal ons nooit in die steek laat nie. Op ’n manier sal God vir ons elkeen help om uit die onsekerheid te kom.

Die eeue oue storie van die man wat na sy voetspore op die sand gekyk het, kom maak in my kop ’n draai. Die man het twee rye spore gesien waar God saam met hom gestap het, maar hy merk toe op dat daar in die swaar tye net een ry spore was. Dadelik wou hy weet waarom God hom dan in die swaar tye alleen gelos het. Ons weet dit was nie so nie, want dis God se spore wat so diep in die sand gelê het soos wat Hy die man in die swaar tye gedra het.

Daar waar jy nou worstel met die swaar in jou lewe, daar waar jy jou sommetjies mooi gemaak het en die werklikheid nou die teenoorgestelde is, weet dat God jou sal dra. Hy sal jou nie alleen laat nie. En indien nodig sal Hy jou selfs optel en ’n stukkie verder dra.

Jy moet net vertrou. Jy moet met sekerheid weet dat God jou nie sal drop nie.

Teks

2 Tessalonisense 1:3-6

Dink bietjie hieroor

Waar sukkel jy?

Vertrou jy vir God?

Glo jy dat God ook vir jou sal dra?

Gebed

Here, ek wil U ook met my hele lewe vertrou. Dankie dat U my sal dra daar waar ek self nie meer kan loop nie. Amen.

Teksgedeelte: 2 Tessalonisense 1
3My broers en susters, ons dank God altyd vir julle. Hoe anders? Want die wonderlikste dinge is daar by julle aan die gebeur: julle vertroue in die Here word by die dag sterker. En julle almal se liefde vir mekaar word net al hoe groter.4Wanneer ons by die ander gemeentes van God kom, spog ons graag met julle. Ons vertel vir hulle hoe julle vas bly staan en bly glo ten spyte van al die vervolging en swaarkry wat julle moet verduur. 5Moenie mismoedig word nie. Sien al hierdie dinge eerder as ’n bewys dat julle op die regte pad is. Julle hoef glad nie meer te twyfel dat God julle gekies het om deel te hê aan sy nuwe wêreld nie, want julle glo so vas in Hom dat julle bereid is om ter wille van Hom te ly. 6God tree altyd reg op. Daarom sal Hy met al daardie mense afreken wat julle nou so swaar laat kry. Laat dit aan Hom oor.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 76 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *