God se eiendom

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
God se eiendom
Hallo

Wanneer dit swaar gaan, bevraagteken ek baie gou my selfwaarde. Is ek goed genoeg? Is dit ín my om die wa deur die drif te trek? Gelukkig herinner die Heilige Gees my dat my waarde nie van myself afhang nie, maar in die Een wat my gemaak het. 1… julle is die eiendom van God ons Vader en die Here Jesus Christus.

Ek is íemand – nie oor wat ek is of wat ek doen nie, maar omdat ek die eiendom van God is. Ek en jy is eerstens die eiendom van God, want Hy het ons gemaak. Tweedens is ons God se eiendom, omdat Jesus ons met Sy bloed aan die kruis vrygekoop het. Die prys was baie hoog. Hoe kan ek dan nog twyfel in myself terwyl die Een wat my gevorm het, God is?

Die Engelse spreekwoord kom by my op: God made no junk. Hoe kan ek dan toelaat dat my kop met my speletjies speel en my wil laat afsak in ’n donker put?

Ek is waardevol! Ek is meer en nóg meer, want ek is die eiendom van die Almagtige Vader. Ek is een van Sy kinders. Ek kan die wêreld gaan stormloop, omdat ek ondersteuning van bo het. Ek hoef nie te leef soos ’n nikswerd nie. Ek is ’n prins, want my Pa is die Koning – sê die liedjie van Danie Botha:

Jy glimlag so breed as jy my vriendelik groet
jy lyk tog so selfversekerd
met die wêreld aan jou voete
voel jy soos ’n reus, bly die lewe ’n fees

As teëspoed jou tref, dan skeel dit jou min
dit lyk of jy dans as jy loop
ek kon dit nooit verstaan nie
ek moes die antwoord hê, en toe hoor ek jou sê:

My Pa is die Koning van die heelal jy weet
en kom wat wil ek sal dit nooit vergeet
die wind kan waai, die berge kan val
Hy’t gesê Hy voorsien en Hy sal

Ek’s die Koning se kind, ja dit maak my ‘n prins
die lewe is Christus, selfs die dood is ‘n wins
vir niks is ek bang nie, dit sê ek jou nou
my pa is die Koning onthou!

Wanneer jy besef dat jy aan God, ons Vader en die Here Jesus Christus behoort, kan jy nie anders as om jou kop te lig en te dans nie. Elke kind van God is vir Hom kosbaar. Elke kind is Sy gunsteling. Jy ook. Nie een is belangriker as die ander een nie. Nie een is minder werd as die ander nie.

Jy is ’n Koningskind. Jesus Christus het jou plek in Sy familie gewaarborg. Glo dit en leef soos ’n Koningskind.

Teks

2 Tessalonisense 1:1-2

Om oor na te dink

Voel jy soms minderwaardig?

Wie of wat gee vir jou waarde?

Wat is jou posisie in God se familie?

Gebed

Vader, dankie dat U my gekies het om U kind te wees. Dankie dat U die Koning is en dat ek as U kind baie waarde het. Help my om só te leef en aan die wêreld te wys hoe lyk ’n kind van die almagtige Koning. Amen.

Teksgedeelte: 2 Tessalonisense 1

1Van Paulus en Silvanus en Timoteus. Aan die kerk in Tessalonika: julle is die eiendom van God ons Vader en die Here Jesus Christus. 2God ons Vader en die Here Jesus Christus se oorvloedige goedheid en vrede is met julle.

Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 70 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *