Profete in vandag se wêreld

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Profete in vandag se wêreld
Hallo

My dogter se vriendin kom hier ingestap met ’n grappie: Hoe groet twee profete mekaar?

“Dit gaan goed met jou. Hoe gaan dit met my?”

Hie-hie! Ek is mos ’n prentjie mens en kan net sien hoe proes die twee profete onder mekaar wanneer hulle dit doen.

Vandag is profete nie meer so algemeen soos in die tyd van die Ou Testament met meer as 133 profete nie. Dié profete het nie net boodskappe van die Here aan die mense oorgedra nie, maar hulle het ook openbaringe oor die toekoms bekend gemaak. Die eerste bekende profete was Moses en Abraham. Ander bekendes is Jakob, Josef, Samuel, Elia en Elisa.

Vroeg in die Nuwe Testament loop ons die profeet Johannes die Doper raak. Hy het voorspel dat die Messias op pad is. Natuurlik was Jesus die grootste Profeet. Elke woord wat Hy gespreek het was leersaam en Hy het vir ons ’n kykie in God se wêreld gegee.

In kort kan ’n mens sê dat ’n profeet ’n woordvoerder van God is. Hulle is mense wat spesiaal deur God geroep is om ’n boodskap van God aan mense bekend te maak.

Profete bestaan vandag nog. Dit is ’n spesiale gawe wat sommige mense ontvang het. Maar dit is nie meer hulle alleen wat die Woord van God aan die wêreld bekend maak nie. Elke Christen moet orals die Woord van God uitdra. Daar is predikante en pastore wat voltyds geroep word om dit te doen. Dit bly egter ons verantwoordelikheid om seker te maak dat selfaangestelde profete nie met ons kop smokkel nie:

20Moenie die profetiese boodskappe van ander oorhaastig van die tafel vee nie. Luister na alles wat hulle sê, 21maar wees versigtig. Stel vas of dit regtig van die Here af kom. Bêre al daardie boodskappe wat wel van God af kom in julle hart, en gaan doen dit, 22maar bly weg van boodskappe wat julle op die verkeerde pad kan lei.

Dis baie makliker om ander se standpunt te vra oor een of ander onderwerp as om self na die antwoorde te gaan soek. As iemand dan die opinie verkeerd bewys, wys ons net die vinger na die ander persoon. Dit was mos sy waarheid. Tog help die teks ons om te verstaan dat ons elkeen die verantwoordelikheid het om seker te maak dat die waarheid regtig waar is. Ons kan en mag nie blindelings agter enige iemand aanstap nie – al is sy of haar kerk hóé groot en al het hulle al boekrakke vol boeke geskryf.

Hoe doen ’n mens dit? Vers 19 gee die antwoord: Moenie julle doof hou wanneer die Gees met julle praat nie. Luister fyn na Sy stem.

Saam met die Heilige Gees sal ons die ouens uitsnuffel wat bog praat. Ja, saam met die Heilige Gees sal ons by die enigste waarheid uitkom. Met die suiwer Woord en waarheid wat van God af kom, sal ons dan soos die profete van ouds vir die mense rondom ons kan bedien en die pad na God wys.

Teks

1 Tessalonisense 5:16-22

Dink bietjie hieroor

Het jy al in ’n profeet vasgeloop?

Hoe weet ’n mens iemand is ’n ware profeet?

Watter rol speel die Heilige Gees in jou lewe?

Gebed

Here Jesus, ek kan nie sonder U Heilige Gees se stem onderskei tussen reg en verkeerd nie. Dankie dat U vandag nog mense toerus met die gawe om te profeteer en dat U dit ook gebruik om gelowiges op te bou en toe te rus vir hulle roeping. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 5
19Moenie julle doof hou wanneer die Gees met julle praat nie. Luister fyn na sy stem. 20Moenie die profetiese boodskappe van ander oorhaastig van die tafel vee nie. Luister na alles wat hulle sê, 21maar wees versigtig. Stel vas of dit regtig van die Here af kom. Bêre al daardie boodskappe wat wel van God af kom in julle hart, en gaan doen dit, 22maar bly weg van boodskappe wat julle op die verkeerde pad kan lei.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 75 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *