Say and display!

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Say and display!
Hallo

Daar is verskillende maniere van groet wat natuurlik verskillende boodskappe oordra. Hier in Afrika bewys sommige mense respek deur met hulle linkerhand aan hulle regterhand te raak as hulle jou hand skud. Wanneer iemand dit met my doen as hulle my groet, raak my hart warm en bedank ek die persoon hartlik vir die mooi gebaar.

Ek hou daarvan om mense ’n druk te gee, want sٕó dra jy ’n stukkie van jou hart oor. Daardeur wys jy dat jy regtig omgee. Die lewe is so leeg en ons het mekaar se omgee so nodig, veral as ons mekaar groet.

In sy boek: God praat Afrikaans, skryf Hemelbesem hoe belangrik groet in sy kultuur is:

As coloured mense mekaar groet, is dit ’n la-a-ang affêre. Dis seker waar vir ander kulture ook, maar dis definitief iets wat ek van my mense waardeer. Amper alle sintuie raak deel van die groet.

Daar word natuurlik met woorde gegroet, maar dit is asof woorde nie genoeg is nie. Daar moet gesê én gedoen word. Say it and display it! Aanraking is so belangrik vir die mens se bestaan. Daar is ’n soort energie wat ons deel as ons mekaar aanraak.

Sjoe, dis mooi gesê en so waar. Ons sê “hallo” vir ander en vra hoe dit gaan en luister dikwels nie eers wat hulle antwoord nie. Wanneer jy egter met gevoel en met aanraking groet, kom jy as’t ware in die persoon se persoonlike bubble. Daar is dit veilig om eerlik te wees en meer as die gewone stop sinnetjie: “Nee wat, goed dankie en daar?” te mompel.

Vir ons as Christene is ’n ordentlike groet ’n moet. Selfs Paulus beveel dit aan: 26Julle moet mekaar vriendelik ontvang. Soen mekaar met ’n heilige soen as julle saamkom soos wat dit by Christene pas.

Ons moet mekaar hartlik groet, m.a.w. met die hart, met gevoel en met omgee. Wanneer Christene mekaar groet, wens ons mekaar geestelike en ewige vrede toe. Ons weet waarheen ons op pad is en ons bevestig juis dit in ons groet. Op ’n manier wys ons dan ook vir die wêreld dat ons omgee en rêrig belangstel in mekaar se wese.

Saam met die groet moet ons ook mekaar seën. Dis meer as net goeie wense en eintlik ’n gebed dat die genade van Jesus oral met die ander persoon sal wees. Daarom bid ek saam met Paulus ook vir jou: Mag 28die oorvloedige goedheid van ons Here Jesus Christus by julle wees, nou en vir altyd.

Mag jy dieselfde groet en seën orals waar jy gaan, uitdra. Mag mense anders wees, omdat jy deur hulle lewe gewandel het.

Teks

1 Tessalonisense 5:23-28

Dink bietjie hieroor

Stel jy regtig belang as jy ander groet?

Beleef ander vir Christus wanneer jy hulle groet?

Na wie moet jy vandag uitreik?

Gebed

Jesus, dankie dat U oorvloedige seën, goedheid en vrede oral by ons is. Help my om dit ook uit te dra aan ander. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 5

26Julle moet mekaar vriendelik ontvang. Soen mekaar met ’n heilige soen as julle saamkom soos wat dit by Christene pas. 27En ek versoek julle baie ernstig in die Naam van die Here dat hierdie brief by julle byeenkomste aan al die gelowiges voorgelees word. 28Die oorvloedige goedheid van ons Here Jesus Christus is by julle, nou en vir altyd.

Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 55 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *