Bid dat die olie spat

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Bid dat die olie spat
Hallo

Ek glo in gebed. Ek glo dat gebed ’n gesprek met ons lewende Vader is en dat Hy hoor. Ek glo dat gebed ’n kragtige uitwerking het. Ek glo dat gebed mense verander. Ek glo dat gebed omstandighede kan verander, want by gebed is ’n almagtige God betrokke.

Ons bid te min. Dis hoekom ons lyk soos ons lyk. En eintlik is dit so dom om te min te bid. Net so dom soos om mense te gebruik om ’n motor van punt A na punt B te stoot as om eerder die sleutel te draai sodat die enjin die werk doen. Ja, dis ’n belaglike voorbeeld, maar dis net so belaglik om hierdie ongelooflike kragtige kommunikasiekanaal te verwaarloos.

Gebed is om met God te praat. Hier kan ons ons hart uitstort. Ons kan fisies, emosioneel en geestelik voor God gaan lê. Ons kan rou eerlik met Hom wees, want hier is ons absoluut veilig. Niks van ons is iets nuuts vir Hom nie. Ons kan Hom nie verras of selfs skok nie, want Hy ken elke stukkie van ons.

Hier in die holte van God se hand kan ons eerlik ons verwondering oor Hom met Hom deel. In stilte word ons in gebed oorval met die grootheid, hope liefde en omgee en uitreik van God na ons. ’n Mens stap anders by gebed uit, omdat God daar is. Al het jy niks gesê nie.

Hier in die holte van God se hand kan ons Hom loof en Sy grootheid besing.

En hier is ook die plek waar ons broos ons versugtinge kan neersit. Die spanning en die seer. Die vrae en vrese. Die drome en begeertes. Nie net vir onsself nie, maar ook vir ander. Nie net in die oggend of aand nie, maar aanmekaar, sonder ophou. Soos Paulus: 11Ek bid dag en nag vir julle.

Jo-Ann (skuilnaam) vertel van haar buurvrou wat vir hulle gebid het:

Ek en my skoonma het besluit om vir die eerste keer koeksisters te bak. Die Tannie langsaan het ’n draai kom maak, maar is weer vinnig daar uit. Later het sy vertel dat die Here dit op haar hart gedruk het om vir ons te bid.

Ons bak en brou terwyl die kinders teen die wasbak sit en dié eet wat reeds afgekoel het.

Ons het die stroop op die stoof gemaak en op ’n broodplank gesit op die glasblad van die tafel. Maar ons het nie gedink om die braaipan waarin ons bak ook op ’n houtbord te sit nie. So word daai tafel warm en die blad bars.

Jy sien net warm olie orals trek. Die kokende olie is in die hele kombuis, oral om ons. Dis op die vloer, teen die kaste, op die gordyne en selfs teen die dak. Maar nie ’n druppel op my of my skoonma of enige van die drie kinders nie!

Toe sê die Here vir die tannie, dis reg, jy kan nou gaan en help skoonmaak.

Sy het daar gekom en gesien wat gebeur het en net die Here begin loof.

Ons het nog nie geweet wat aangaan nie, maar sy het ons vertel terwyl ons almal skoonmaak.

Ons God is groot en wonderbaar. Dank die Here vir ’n vriendin wat gebid het daai dag.

So moet ek en jy bid. Aanmekaar vir mekaar. Draai die sleutel dat die enjin die werk kan doen.

Teks

2 Tessalonisense 1:11-12

Dink bietjie hieroor

Bid jy genoeg?

Bid jy genoeg vir ander?

Hoe moet jy anders maak?

Gebed

Onse Vader, hoekom bid ons tog so min? Hoekom bid ons so min vir ons geliefdes, vriende en vreemdelinge? Ek wil meer bid. Help my om elke dag, aand en oggend en sommer deur die dag ook, tyd te maak om met U te praat. Ek sien daarna uit. Amen.

Teksgedeelte: 2 Tessalonisense 1
11Ek bid dag en nag vir julle. Ek bid dat God julle in staat sal stel om die soort lewe te leef wat Hy vir julle in gedagte het. Ek bid dat Hy deur sy krag in julle sal werk sodat dit vir julle al hoe lekkerder word om daardie dinge te doen wat sy hart blymaak. Mag Hy heeltemal tevrede wees met die manier waarop julle elke dag julle geloof uitleef.12Dan sal julle ons Here Jesus se heerlikheid uitdra soos nog nooit tevore nie. Ander mense sal sien hoe groot en belangrik Hy regtig is. Op julle beurt sal julle met eer beklee word deur die Here. Dit is presies hoe die goedheid van ons wonderlike God en die Here Jesus Christus in julle lewens werk.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie
e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 156 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *