Groter liefde vir mekaar

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Groter liefde vir mekaar
Hallo

Elke nou en dan kom daar tye in ‘n huwelik wanneer jy wonder hoekom jy nou juis dié man of vrou gekies het. En dan is jy kwaad vir jouself dat jy nie eerder vir Paulus geluister het toe hy gesê het dis eintlik beter om ongetroud te bly nie.

Maar dit lyk vir my of die skermutselings by sommige van ons al hoe minder raak hoe langer ons bymekaar is. Ek vermoed dit het iets te doen met liefde. ’n Mens raak al hoe liewer vir mekaar. ’n Mens kyk al hoe meer die ander een se foute mis. Ons het al hoe meer ruimte vir mekaar en die eie ek staan so effe opsy. Ons gee meer vir die ander een om as vir onsself. Dit wat vir my belangrik was, is nou nie meer so ononderhandelbaar nie. Vrede dra nou meer gewig as die donderwolke wat oor ons koppe draai. En dit is liefde wanneer die ander een belangriker raak as ekself.

Dit kom met wysheid. Net jammer dat baie mense te gou handdoek ingooi en nie kans gee vir die wysheid om sy intrek te neem nie.

Liefde is die gom wat mense aan mekaar vasbind. Ja, soms wil jy alles los. Soms woed daar ’n storm en jy kan glad nie sien hoe julle weer mekaar in die oë gaan kyk nie. Maar tog kom ’n mens weer op ’n manier by mekaar uit. Die liefde bring weer die losgetrekte stukkies nader aan mekaar.

Dit is wat ons huwelike nodig het. Dit is wat die wêreld nodig het. Dit is wat elke verhouding in die wêreld nodig het. Liefde. Liefde vir ander. En op ’n manier het die jong Christene van Tessalonika dit sommer van die begin af reggekry: 3My broers en susters, ons dank God altyd vir julle. Hoe anders? Want die wonderlikste dinge is daar by julle aan die gebeur: julle vertroue in die Here word by die dag sterker. En julle almal se liefde vir mekaar word net al hoe groter.

Kan daar so oor my en jou gepraat word? Laat sak jy ook jou kop soos ek in skaamte? Ai, die proses om meer soos Jesus te wees, sukkel maar om spoed op te tel.

Die wêreld het God se liefde só nodig. Alles val uitmekaar en ons sien nie eintlik die lig nie, want ons as Christene saai nie genoeg van God se liefde in die wêreld nie.

Ons moet ons koppe weer na Jesus draai. Hy is die volmaakte voorbeeld van hoe ’n mens liefde saai. Dis ’n gee liefde. ’n Liefde wat niks terug verwag nie. Jesus het nie met die mens geredeneer en gevra wat is ons bereid om te gee as Hy vir ons aan die kruis sterf nie. Hy het nie gegee om iets te ontvang nie. Net onbaatsugtig Sy lewe, Sy alles gegee.

Dis wat die wêreld nodig het. Dis wat die mense rondom jou nodig het. Daar in jou huwelik, verhoudings, daar by jou kollegas en vriende. Hulle smag na jou onbaatsugtige liefde.

Ek weet dis erg moeilik, maar gaan probeer om ’n lewe te leef van gee, sonder om iets terug te verwag. Die wêreld, jóú wêreld sal anders lyk.

Mag God met Sy Gees ons hierin help en mag ander eendag ook van ons sê: En julle almal se liefde vir mekaar word net al hoe groter.

Teks

2 Tessalonisense 1:3-6

Dink bietjie hieroor

Hoeveel liefde saai jy?

Waar is liefde om jou nodig?

Waar moet jy harder probeer?

Gebed

Dankie Vader, vir U onbaatsugtige liefde. Dankie dat ons aan die ontvangkant daarvan is. Help ons nou om ook daarvan uit te leef aan die geliefdes om ons. Amen.

Teksgedeelte: 2 Tessalonisense 1
3My broers en susters, ons dank God altyd vir julle. Hoe anders? Want die wonderlikste dinge is daar by julle aan die gebeur: julle vertroue in die Here word by die dag sterker. En julle almal se liefde vir mekaar word net al hoe groter.4Wanneer ons by die ander gemeentes van God kom, spog ons graag met julle. Ons vertel vir hulle hoe julle vas bly staan en bly glo ten spyte van al die vervolging en swaarkry wat julle moet verduur. 5Moenie mismoedig word nie. Sien al hierdie dinge eerder as ’n bewys dat julle op die regte pad is. Julle hoef glad nie meer te twyfel dat God julle gekies het om deel te hê aan sy nuwe wêreld nie, want julle glo so vas in Hom dat julle bereid is om ter wille van Hom te ly. 6God tree altyd reg op. Daarom sal Hy met al daardie mense afreken wat julle nou so swaar laat kry. Laat dit aan Hom oor.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 94 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *