Het jy ‘n velcro of ‘n teflon kop

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Het jy ‘n velcro of ‘n teflon kop
Hallo

Soms onderbreek ek die gewone stap deur die Bybel wanneer iets hard op my hart druk. Ons druk eers Paulus se pause knoppie vir vandag.

Ek was bevoorreg om twee weke gelede deur ‘n vriend na Nederland genooi te word. Sjoe, dit is ‘n fantastiese land en wonderlik om nuwe horisonne te kon ervaar. Alles werk net.

Maar ek kom met een groot stuk gewaarwording terug. Ek bly in ’n bezousterende land. Ja, ons het baie probleme en uitdagings. Die rand maak bollemakiesies, die petrolprys het Red Bull gedrink en vlerke gekry. Die grondkwessie laat ons woes sweet van bekommernis. Ons harte bloei vir die moorde. Tog is dit die land waar God ons geplaas het. Hier is so ’n groot verskeidenheid van mense, maar eintlik is dit ’n aanwins en ook so deur God beplan. Dit is wat ons moet embrace.

Stephan Joubert het verlede week in Beeld geskryf:

Suid-Afrikaners is tans die negatiefste ooit, lees ek iewers in Beeld. Toe onthou ek die neuro-kenner, Rick Hanson, se woorde: “Our brain is like velcro for negative experiences but teflon for positive ones.” Hy bedoel ons koppe is geprogrammeer om gedurig op negatiewe dinge te fokus. Ons bestee meer tyd en energie aan die negatiewe gedrag en opmerkings van ander mense as aan positiewes.

 Negatiewe dinge vorm ons opinies eerder as al die goeie dinge wat mense doen. Goeie ervarings glip ongesiens by ons verby. Dit vloei soos water deur ons kop. Ons sien nie raak as honderde mense reg bestuur, hoflik optree, vriendelik is of na mekaar se belange omsien nie. Maar laat net een taxi voor ons injaag, dan is ons heeldag omgekrap.

 As ons nie ingryp op ons kop se velcro-mentaliteit om heeltyd net te fokus op negatiewe dinge nie, gaan ons denke, emosies en taal galbitter raak. Dis ’n Bybelse opdrag om nie ’n gevangene van sulke destruktiewe denkpatrone te wees nie. In Efesiërs 4:17-24 roep Paulus ons op om nie met pap koppe opgeskeep te sit nie. Ons moet toelaat dat die Here ons denke nuut maak, skryf hy met name in vers 23. Ook moet ons ons oog op God gefokus hou. Ons moet doelbewus kies om sy handewerke orals raak te sien, eerder as almal se sondes en foute. Kom ons skuif ons denke, emosies en gewoontes Godwaarts. Anders gaan ons met ’n velcro kop opgeskeep sit.

 Dankie Stephan, dat jy my gehelp het om ’n stap in die regte rigting te neem om die verskeidenheid in ons land te omarm.

Ja, ons moet die donkerte uit ons koppe kry deur die lig aan te skakel. Dit is net God se lig wat Suid-Afrika se duisternis kan verdryf.

Kom ons laat toe dat God se lig in ons koppe skyn. Kom ons lewe die lig, want dan sal God se lig ook in Suid-Afrika opkom.

Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.e

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 42 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *