Jy het baie waarde en ’n roeping

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Jy het baie waarde en ’n roeping
Hallo

Ons almal kom een of ander tyd by ’n kruispad te staan waar ons die vraag vra: Wat maak ek nou eintlik hier? Wat is my doel op aarde? En dikwels word die antwoord verder weggejaag met ’n minderwaardigheidsgevoel wat oor ons neerdaal. Ai, dis nie lekker om op so ’n plek te wees nie.

Maar ek onthou toe van ’n vers oor God wat ’n idee oor my gehad het nog voordat ek gebore is.

Hoor hoe mooi is die lirieke van Dawid se loflied in Psalm 139:14-15 “Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.”

Sjoe! Dis wonderlik om te weet dat God nog voor my geboorte al betrokke was by my. Nog voor ek aanmekaar geweef is, het Hy al die volmaakte prentjie van my in Sy gedagtes gehad. Hy was opgewonde oor my koms. Hy het my dag vir dag in my moeder se skoot gevorm met ’n baie spesifieke doel. Elke dag het Hy geloer om te sien wat het groter geword en wat het bygekom. Verwonderd het Hy gekyk na my ontwikkeling en groei.

Ek stel my voor hoe Hy nie kon wag dat ek my eerste asemteug gee nie en toe daai eerste skree kom, kon Hy Hom nie inhou nie en toe uitbundig gelag. Van vreugde, van opgewondenheid en van tevredenheid. Verskoon my asseblief as dit klink of ek disrespekvol is, maar in my geestesoog sien ek hoe God vir Jesus ’n high five gee.

Dan spring ek weer uit my gat van minderwaardigheid. Ek is gemaak deur die lewende God. Dit was Sy idee dat ek op die aarde is en daarom het ek waarde. Ek ontvang dus nie my waarde oor wie ek is of wat ek doen nie, maar ek ontvang my waarde van God. Die Een wat my gevorm het en lewe in my geblaas het.

En omdat God my gemaak het, weet ek daar is ook ’n plan vir my lewe. Ek is nie sommer net toevallig hier waar ek nou is nie. Nee, God het vir my en elkeen van ons ’n spesifieke taak wat ons hier op die aarde moet uitvoer.

Jeremia bevestig dit in hoofstuk 1 vers 4: Die Here het vir my gesê: 5“Ek ken jou van altyd af. Van voor jou geboorte af het Ek jou gekies en aangestel.”

En dis waarvoor Paulus bid in 2 Tessalonisense 1: 11Ek bid dag en nag vir julle. Ek bid dat God julle in staat sal stel om die soort lewe te leef wat Hy vir julle in gedagte het.

God het elkeen van ons aangestel om iets te doen. Hy het ’n prentjie in Sy kop wat ons hier op aarde vir Hom moet doen en dit moet ons baie mooi verstaan. Ek vermoed ons land en ons wêreld lyk soos sy lyk omdat baie mense nie by God se prentjie vir ons lewe uitkom nie.

Kom ons los die gesukkel en gestoei met ons selfwaarde en sê hardop: Ek was al in God se gedagtes nog voordat my ouers planne begin beraam het om kinders te kry – of soos in my geval: God het planne met my gehad ten spyte van my ouers se besluit om nie nog kinders te hê nie.

Dis nou my en jou verantwoordelikheid om by God seker te maak wat die plan is. En dan moet ons in aksie kom om God se plan vir ons lewe voluit uit te leef, sonder enige onsekerheid oor ons waarde in God se oë.

Teks

2 Tessalonisense 1:11-12

Dink bietjie hieroor

Besef jy hoe waardevol jy in God se oë is?

Wat is jou roeping?

Waar kan jy dit gaan uitleef?

Gebed

Ons Vader wat in die hemel is, dankie vir die wete dat U reeds aan ons gedink het nog voordat selfs ons ouers aan ons gedink het. Dankie dat ek waarde het. Dankie dat ek ’n roeping het, ’n plan wat U vir my lewe het. Help my om dit daar buite te gaan uitleef. Amen.

Teksgedeelte: 2 Tessalonisense 1
11Ek bid dag en nag vir julle. Ek bid dat God julle in staat sal stel om die soort lewe te leef wat Hy vir julle in gedagte het. Ek bid dat Hy deur sy krag in julle sal werk sodat dit vir julle al hoe lekkerder word om daardie dinge te doen wat sy hart blymaak. Mag Hy heeltemal tevrede wees met die manier waarop julle elke dag julle geloof uitleef.12Dan sal julle ons Here Jesus se heerlikheid uitdra soos nog nooit tevore nie. Ander mense sal sien hoe groot en belangrik Hy regtig is. Op julle beurt sal julle met eer beklee word deur die Here. Dit is presies hoe die goedheid van ons wonderlike God en die Here Jesus Christus in julle lewens werk.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 48 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *