Pille, vormpies en swaarkry

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Pille, vormpies en swaarkry
Hallo

(Die afgelope tyd het die IT duiwel weer sy kop uitgesteek en het die e-pos stuurprogram gesukkel. Die tegniese span het ’n paar veranderings aangebring. Sal jy ons asb. laat weet as jy die Kruispad-stukke meer as een keer ontvang.)

Partymaal wonder ek hoekom die geloofspaadjie so steil is, want daar word beslis nie ’n maklike pad gewaarborg vir die wat vir Jesus volg nie. Inteendeel, dit gaan baie maal so erg dat ek bang is die bootjie val om. Nee, nog erger! Dit voel vir my soms of die bootjie reeds omgeslaan het en ek enige oomblik deur die waters ingesuig gaan word.

Tog, as ek weer dink aan wat Jesus vir my aan die kruis gedoen het, weet ek dat Hy my té liefhet om my te los.

Miskien het die samelewing waarin alles in ’n kits opgelos kan word ons verleer om swaarkry te hanteer. As jy siek is, pop jy ’n pil. As die geld skraps is, vul jy ’n vorm in by die bank en dan koop jy maar weer verder.

Vir enige probleem is daar ’n kitsoplossing. Maar wanneer ons op God se lewenspad swaarkry, is daar nie kitsoplossings nie. Daar is nie pille en vorms wat alles regmaak nie. Nee, dit is ’n pad waarin ons geloof tot die uiterste getoets word.

Sommige mense se paaie is net meer besaai met swaarkry as ander.

Tog moet die swaarkry ons nie onderkry nie. Dit moet ons ook nie mismoedig maak nie. Nee, dit moet ons eintlik aanvuur, want God stap saam met ons op die pad. Deur die swaarsleep is Hy besig om aan my en jou te werk en ons sal sekerlik anders wees wanneer ons aan die anderkant uitkom.

Tog is dit nie maklik nie en dit voel soms vir my soos goedkoop troos. Terwyl ek so swaarkry, wil ek nie dinge hoor soos dat God my aan die regtrek is sodat ek meer en meer soos Hy kan lyk nie. Dit is net té swaar en té seer.

Dalk kan ons ietsie leer by die mense van Tessalonika, sodat daar ook eendag oor ons gespog kan word: 4Wanneer ons by die ander gemeentes van God kom, spog ons graag met julle. Ons vertel vir hulle hoe julle vas bly staan en bly glo ten spyte van al die vervolging en swaarkry wat julle moet verduur.

Ons moenie mismoedig word nie. Ons moet berus by die feit dat God met ons werk en ons moet bly glo dat Hy die beste weet. Ons moet weet dat ons ook hierdeur sal kom en dat God ons nooit alleen sal laat nie.

Oor ’n tyd sal ons wel kan terugkyk en sien dat God aan die werk was. Ons sal sien dat ons nou anders is. Ons sal sien dat ander mense anders is, omdat ons anders is. En ons sal sien dat God ons nie vir een oomblik alleen gelos het nie.

Swaarkry kom maak al te gereeld sy draai in Christene se lewe. Dis hoe die lewe se ratte werk. Die vraag is nie of dit êrens gaan opdaag nie. Die vraag is eerder hoe ons dit gaan hanteer wanneer dit opdaag.

Is my geloof sterk genoeg om te ly of het ek te gewoond geraak aan die lekker sorgelose lewe wat ons vir onsself aan die kweek is?

Onthou net dat swaarkry en toetse deel is van die pakkie en nie onderhandelbaar is nie. En ongelukkig is daar nie ’n vinnige pil wat ons daarvoor kan sluk nie. Daar is nie ’n vormpie wat ’n mens kan invul en jou lewe kan normaal aangaan nie.

Ek dink aan my Ma wat op 50 haar man verloor het. Met ses kinders en al die  uitdagings wat daarmee saamgaan. Sy het nie met ’n kussinkie onder haar kop gaan lê en wag dat dit beter raak nie. Sy het nie na Bo ’n klomp vraagtekens uitgeskree nie. Nee, sy het vir die eerste keer in haar lewe die markplein betree en self begin werk om die pot aan die kook te hou. Haar geloof in haar God was die rots waaraan sy vasgeklou het.

Ons het nie al die antwoorde nie. Swaarkry tref orals en sonder aankondiging. God sal saam met jou daardeur. God sal selfs die negatief in ’n positief omdraai. Hou uit. Hou aan. Veg voort.

Dis nie maklik nie, maar doen jou bes om te bly staan en te bly glo.

Teks

2 Tessalonisense 1:3-6

Dink bietjie hieroor

Het jy al by die afgrond van mismoedigheid gestaan?

Watter brug moet jy oor om hierdeur te kom?

Voordat jy die brug betree, wat van jou moet jy daar los?

Gebed

Hemelse Vader, dankie dat U my nooit alleen los nie. Ek weet U stap elke tree saam met my op hierdie swaarkry pad. Leer my om ook soos die mense in Tessalonika vas te staan en te bly glo dat U goed is en dat U my ook hierdeur sal help. Amen.

Teksgedeelte: 2 Tessalonisense 1
4Wanneer ons by die ander gemeentes van God kom, spog ons graag met julle. Ons vertel vir hulle hoe julle vas bly staan en bly glo ten spyte van al die vervolging en swaarkry wat julle moet verduur. 5Moenie mismoedig word nie. Sien al hierdie dinge eerder as ’n bewys dat julle op die regte pad is. Julle hoef glad nie meer te twyfel dat God julle gekies het om deel te hê aan sy nuwe wêreld nie, want julle glo so vas in Hom dat julle bereid is om ter wille van Hom te ly. 6God tree altyd reg op. Daarom sal Hy met al daardie mense afreken wat julle nou so swaar laat kry. Laat dit aan Hom oor.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 65 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *