Voortbeur in die swaar

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Voortbeur in die swaar
Hallo

Partymaal is die lewe net te veel. Partymaal druk die lewe jou dat jou oë traan. Dalk is dit finansies wat druk. Dalk is dit jou eggenoot wat heeltyd dwars in die gang voor jou staan. Dalk is dit ’n verhouding wat die heeltyd in die stof byt. Dalk is jy nou al so moeg met die lewe gestoei dat jy na Bo skree en selfs daar kom nie eintlike enige reaksie vandaan nie.

Dis sulke tye wanneer iemand net nie na jou toe moet kom met ’n teksversie of ’n handvol mooi woorde om ’n salfie aan jou moewiese wond of krisis te smeer nie. Ai man, kan die lewe darem nie ’n slag sy mooi kant na my toe draai nie?

Dalk is die tyd nou reg om net eers uit die resies te klim en jouself en jou goeters en jou manier van leef van die paviljoen af te bekyk. (Kry ’n skoon stuk papier.)

  • Skryf neer waar jy jouself nou bevind.
  • Noem die mense wat elke dag saam met jou skouers skuur.
  • Maak ’n lysie van mense en dinge wat mooi is in jou lewe.
  • Maak ’n lysie van mense en dinge wat pla.
  • Teken ’n prentjie van jou wêreld en gee elkeen hier bo ’n plekkie.
  • Waar pas God in jou prentjie? Teken Hom daar.

Hoe voel jy oor jou prentjie?

Moet jy ’n paar dinge anders aanpak?

Ek vermoed ons almal het hulp nodig. Dalk moet jy soos ek na ’n vriend gaan om te help. Ons het nie self al die antwoorde nie. Ons is so vasgegryp in ons huidige situasie dat ons nie verby die deur hier voor ons kan sien nie. Ons kan nie uitreik na die antwoorde op die meeste van ons vrae wat net hier om die draai lê nie. Dis binne ons bereik, maar tog so onmoontlik vêr.

Vra vir God om jou te help om die regte persoon te kry om jou hand te neem om by jou antwoorde uit te kom. Hy sal dit doen.

Ek weet dis ’n gesukkel, want ek sukkel saam, daarom preek ek ook vir myself. Daarom wil ek vir jou (en myself) so bietjie bemoedig, want ons het dit so nodig: 5Moenie mismoedig word nie. Sien al hierdie dinge eerder as ’n bewys dat julle op die regte pad is.

Kyk mooi wat die vers nié sê nie. Dit sê nie dat moeilike tye in die niet gaan verdwyn nie. Dit sê nie dat lekker tye voorlê nie. Nee, dit veronderstel juis dat daar tye gaan wees wanneer dit nie maklik gaan wees nie. Dis die realiteit. Ons moet net nie toelaat dat dit ons onderkry nie. Ons moenie toelaat dat die omstandighede met ons kop smokkel nie.

Ons moet kop bo water hou, want die feit dat die branders soms so woes slaan, is juis ’n teken dat ons die regte dinge doen. Eintlik moet ons begin vrae vra as swaarkry ons gereeld verbystap.

Daarom – lig jou kop. Stap die dag tegemoet. Stap met ’n huppel in jou stap en Carpe Diem, want God stap saam met jou. Weet dat die uitkoms om die draai is. Weet dat God met jou prentjie besig is en dit so sal laat uitwerk dat jy by Sy pad vir jou lewe uitkom.

Teks

2 Tessalonisense 1:3-6

Dink bietjie hieroor

Hoe voel jy oor jou prentjie?

Moet jy ’n paar dinge anders aanpak?

Gebed

Here, ek kry swaar en ek voel mismoedig. Ek weet nie waar om te begin nie. Ek het U hulp so nodig. Amen.

Teksgedeelte: 2 Tessalonisense 1
5Moenie mismoedig word nie. Sien al hierdie dinge eerder as ’n bewys dat julle op die regte pad is. Julle hoef glad nie meer te twyfel dat God julle gekies het om deel te hê aan sy nuwe wêreld nie, want julle glo so vas in Hom dat julle bereid is om ter wille van Hom te ly. 6God tree altyd reg op. Daarom sal Hy met al daardie mense afreken wat julle nou so swaar laat kry. Laat dit aan Hom oor.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 103 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *