Wat op die laaste dag gaan gebeur

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Wat op die laaste dag gaan gebeur
Halllo

Ek is ’n baie gemoedelike persoon en hou nie daarvan om ander mense aan te vat nie. Ek sal eerder myself inloop as om ander te konfronteer. Maar soms moet ’n mens ander voor die bors gryp en die waarheid vertel. Dit kan dalk net hulle lewe red.

Die woord van God gryp die lesers soms so voor die bors en draai nie doekies om nie. Dit is veral vir die wat van die pad af is nie lekker om die nuus te hoor nie, maar dit moet ons nie keer om hulle herhaaldelik aan die waarheid te herinner nie.

7God sal julle swaarkry laat ophou op daardie dag wanneer die Here Jesus saam met al Sy sterk engele terugkom.

8Hulle koms sal soos ’n reusevuur wees wat in die hemel verskyn. Dan sal Hy almal straf wat nie in God glo nie. Almal wat geweier het om die goeie nuus oor ons Here Jesus te glo sal op daardie dag in groot moeilikheid wees.

9Pyn en lyding sal dan hulle voorland wees, vir altyd! Die Here sal niks verder met hulle te doen wil hê nie. Hulle het hulle kans gehad. Hulle sal nooit weer die Here se goedheid en Sy groot krag beleef nie.

10Op daardie dag wanneer Christus terugkom, gaan al hierdie dinge waaroor ek nou met julle praat voor julle eie oë gebeur. Almal wat aan Hom behoort, sal dan in bewondering voor Hom kom staan. Julleself sal ook daar wees vir die fees, want julle het ons prediking met julle hele lewe geglo.

Hier is duidelik twee groepe mense. Die een groep is die ouens wat eenvoudig net nie gehoor gegee het aan die oproep om Christus as hulle Verlosser aan te neem nie. My hart breek in stukke as ek sien hoe mense bewustelik teen God kies. Hoe hulle alles afmaak as snert en kliphard lag vir dié van ons wat in die enigste lewende God glo.

Dis vir my nog minder lekker om die prentjie te sien van wat met hulle gaan gebeur as Jesus weer kom. Hulle moeilikheid is geboek. Hulle gaan swaarkry. Hulle gaan huil. Hulle gaan hulle vuiste pap slaan teen die hemeldeur, maar dit gaan ongelukkig toe wees om nooit weer oopgemaak te word nie. Hoe leeg is ’n wêreld tog nie waar God se goedheid en Sy groot krag onttrek is?

Ai, watter absolute gemors van ’n plek sal dit nie wees nie?

Maar dan is daar die ander groep. Die groep van ons (en ek hoop van harte ek sluit ook vir jou by my ons in!) wat vir Jesus as hulle Verlosser aangeneem het, sal in verwondering staan. Ons oë sal glinster wanneer ons na Jesus staar. Ons sal van aangesig tot aangesig met ons hemelse Broer staan. Met Sy arms wyd uitgestrek sal Hy ons elkeen innooi om vir ewig saam met Hom ons intrek in die hemel te neem.

Sjoe, dis ’n wonderlike vooruitsig.

En tog pyn my hart. Die pyn trek hier diep deur my wese vir die ander groep. Die groep wat dit nie gemaak het nie. Die ouens wat nie die keuse gemaak het nie. Ek sal seker wonder of ek nie harder kon probeer nie. Watter ander planne kon ek maak om God se uitnodiging aan die wêreld uit te basuin.

Ek besef dat ek nie ’n groot impak op die hele wêreld kan maak nie, maar hier in my eie omgewing kan ek wel iets doen. Ek kan op die sosiale netwerk Jesus se verlossende boodskap versprei. Ek kan vir my vriende tekste en aanmoedigings vanaf my foon stuur. Ek kan elke dag my ervarings op die pad saam met God deel met vriende, familie, kollegas en selfs vreemdelinge. Maar meer nog – ek kan deur my manier van leef vir God aan almal bekendstel.

Ja, kom ons vat hande en begin vandag hard werk om die ander groep kleiner te maak en ons groep groter, sodat baie meer saam met ons vir Jesus kan bewonder …

Teks

2 Tessalonisense 1:7-10

Dink bietjie hieroor

By watter groep gaan jy staan?

Wie staan nie saam met jou daar nie?

Wat kan jy nou doen om dit te verander

Gebed

Vader, dankie dat ek eendag vir U in verwondering kan aanskou. Maak my oë oop vir dié wat nie in dieselfde groep as ek is nie. Gee my die moed om U verlossingsboodskap met hulle te deel. Amen.

Teksgedeelte: 2 Tessalonisense 1
7God sal julle swaarkry laat ophou op daardie dag wanneer die Here Jesus saam met al sy sterk engele terugkom. 8Hulle koms sal soos ’n reusevuur wees wat in die hemel verskyn. Dan sal Hy almal straf wat nie in God glo nie. Almal wat geweier het om die goeie nuus oor ons Here Jesus te glo sal op daardie dag in groot moeilikheid wees. 9Pyn en lyding sal dan hulle voorland wees, vir altyd! Die Here sal niks verder met hulle te doen wil hê nie. Hulle het hulle kans gehad. Hulle sal nooit weer die Here se goedheid en sy groot krag beleef nie. 10Op daardie dag wanneer Christus terugkom, gaan al hierdie dinge waaroor ek nou met julle praat voor julle eie oë gebeur. Almal wat aan Hom behoort, sal dan in bewondering voor Hom kom staan. Julleself sal ook daar wees vir die fees, want julle het ons prediking met julle hele lewe geglo.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 43 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *