Ons, die níe perfekte Christelike hero’s

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Ons, die níe perfekte Christelike hero’s
Hallo

’n Deurlopende tema in ons flieks is om die toppunt van menswees voor te stel. Die mees perfekte mens is die een wat tot die einde oorleef en heers. Ons gesin gaan kyk na Wonder Woman. Die ooreenstemming met die boodskap van die evangelie is opmerklik. Wonder Woman is inderdaad wonderlik en baie na aan ’n perfekte mens.

Op ’n manier beskryf Paulus die ideale kinders van God. Luister net hier: 11… Ek bid dat Hy deur Sy krag in julle sal werk sodat dit vir julle al hoe lekkerder word om daardie dinge te doen wat Sy hart blymaak. Mag Hy heeltemal tevrede wees met die manier waarop julle elke dag julle geloof uitleef.

Hierdie laaste sin maal oor en oor in my kop: Mag Hy heeltemal tevrede wees met die manier waarop julle elke dag julle geloof uitleef. Ek wonder hoe tevrede God met die manier is waarop ek my geloof uitleef? Ek wonder hoe tevrede God met jou manier is? Hoe naby is ek en jy aan die ideale mens? Hoe vêr agter Wonder Women is ons nou eintlik?

As ek egter so rondom my kyk, sien ek nie eintlik sulke mense nie. Wanneer ek na die ouens in die kerk kyk, sien ek ook nie eintlik sulke perfekte mense raak nie. En dan voel ek soos ’n hoender as ek na my eie lewe as kind van God kyk. Ek is ook maar vêr weg van ’n perfekte kind van God.

Dis die realiteit.

So wat nou? Moet ek maar ophou probeer, omdat ek dit na al die jare op die geloofspad steeds nie maak nie? Nee, wat. So ’n drastiese optrede is nie nodig nie. Miskien moet ons eers vrede maak met die feit dat ons in ’n onvolmaakte wêreld leef waar ons telkemale in die gat gaan trap en struikel.

Dit beteken egter nie dat ons nié moet probeer om soos kinders van God te lewe nie. Daarom moet ons wegspring om vir mekaar en vir onsself te bid. Soos wat Paulus vir die klomp mense intree, so moet ons vir mekaar intree.

Paulus weet dis nie maklik om ’n suiwer lewe as kind van God te leef nie. Maar dit was nie net in die Bybelse tyd so nie. Vandag is dit steeds leeuwêreld daar buite. Ons sukkel dalk nóg meer om kop bo water te hou. Daarom is dit so belangrik dat ons vir mekaar bid.

Ons moet nóg meer vir onsself bid om die lewe te leef wat God vir ons elkeen in gedagte het. Dit is moontlik om so te leef, maar op ons eie sal ons dit nie regkry nie. In gebed maak ons versterkings bymekaar. Daarom die gebed: 11… Ek bid dat Hy deur Sy krag in julle sal werk sodat dit vir julle al hoe lekkerder word om daardie dinge te doen wat Sy hart blymaak.

Ons hoef nie op ons eie te probeer om dit te doen nie. God sal met Sy Gees in ons werk. Dit is dan juis die Heilige Gees wat ons sal help om in gehoorsaamheid aan ons Vader te leef. Ons moet so leef dat die Heilige Gees op ’n manier die stuur kan oorneem. Dan sal ons die dinge van ons Vader wíl doen.

Ons almal wil graag soos Superman en Superwoman wees, maar ons almal weet ook dat ons vêr van perfek is. Tog moet ons nie in sak en as gaan sit nie. Ons moet weet dat die sondige wêreld sy merk op ons gelaat het.

Tog gee dit ons nie ’n gratis kaartjie om aan te hou sondig nie. Inteendeel – ons moet met die hulp van die Heilige Gees elke dag probeer om nader aan God se beeld vir ons te kom. Ons moet versterkings inkry. Ons moet bid. Met die krag van bo sal ons al hoe nader aan God se ideale prentjie kom en sal ons al hoe meer dinge doen wat God gelukkig maak.

Teks

2 Tessalonisense 1:11-12

Dink bietjie hieroor

Is dit vir jou lekker om aan God gehoorsaam te wees?

Wie is aan die stuur van jou lewe?

Wat staan jou nou te doen?

Gebed

Vader, ek wil so leef dat U heeltemal tevrede sal wees met die manier waarop ek my geloof uitleef. Ek wil ook vir my familie en vriende bid en vra dat U ons almal sal help om daardie dinge te doen wat U hart blymaak. Amen.

Teksgedeelte: 2 Tessalonisense 1
11Ek bid dag en nag vir julle. Ek bid dat God julle in staat sal stel om die soort lewe te leef wat Hy vir julle in gedagte het. Ek bid dat Hy deur sy krag in julle sal werk sodat dit vir julle al hoe lekkerder word om daardie dinge te doen wat sy hart blymaak. Mag Hy heeltemal tevrede wees met die manier waarop julle elke dag julle geloof uitleef.12Dan sal julle ons Here Jesus se heerlikheid uitdra soos nog nooit tevore nie. Ander mense sal sien hoe groot en belangrik Hy regtig is. Op julle beurt sal julle met eer beklee word deur die Here. Dit is presies hoe die goedheid van ons wonderlike God en die Here Jesus Christus in julle lewens werk.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 41 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *