Goed doen

Goed doen
Hallo

Ek sit en skryf hier op ’n pragtige plaas in Gobabis. Dis net na 3 vm. en ek is so wakker soos ’n akker. Dis seker gisteraand se vleis wat my so effe rondjaag. Hier eet hulle mos net vleis. Vir groente braai hulle ’n hoendertjie en vir slaai vark, maar laasgenoemde twee is nie hoog op die spyskaart nie.

’n Goeie vriend van my het my geskiet (no pun intended) vir die jag. Hy het net eendag by my opgedaag en gesê ek moet saamkom na sy broer se plaas. Ons gaan jag en ek kan ’n eland skiet.

Op hierdie trippie mag ek niks doen nie. Ek mag nie help met die petrolgeld nie. Ek mag nie ’n bydrae lewer vir kos en drinkgoedjies nie. Ek het nog nie eens een van die baie plaashekke oopgemaak nie! Ek voel soos ’n koning!

En ek voel klein dat iemand my só bederf. Eintlik kan ek dit nie glo nie.

Ek leer so baie by my vriend. Hy kan homself nie keer nie. Hy soek die heeltyd plek om goed te doen. Van die groot goed tot die klein dingetjies. Kan ek vir jou ’n stoel kry? Kan ek vir jou ietsie te drinke kry? Het jy genoeg geëet? Wat kort? En so kan hy homself nie keer om goed te doen nie.

Selfs wanneer ons in die jagveld is, bly hy agter om die vleis te verwerk.

Daar is vir my geen groter voorbeeld van iemand wat ’n passie het om goed te doen nie. Ja, ek weet hy is nie ’n engel nie. Ja, hy het ook al ’n paar keer oor die grense van die lewe gefoeter, maar hy het toegelaat dat die Here hom vorm en leer. Hy het toegelaat dat hy verander word met die effek dat hy om elke hoek en draai ’n plek soek om goed te doen.

My vriend is die lewende voorbeeld van die opdrag van Paulus: 13Broers en susters, julle moet asseblief aanhou om goed te doen aan ander mense. Julle mag nooit moeg word daarvoor nie. Hy kan homself nie keer nie. Orals waar hy gaan is mense anders. Gaan praat maar met die groot span mense wat vir hom werk. Elke liewe een van hulle sal jou ’n storie vertel waar my vriend hulle by ’n moeilike tyd in hulle lewe bygestaan het.

Mense is anders omdat my vriend Jesus se hande en voete is en om elke hoek en draai goed doen.

Die vraag is of jy dit ook doen? Soek jy ook soos my vriend orals plekke om goed te doen? Kan jy jouself nie keer om jouself vir ander te gee nie? Indien nie, sal jy hieraan moet aandag gee, want hierdie is nie opsioneel vir ons as Christene nie, maar ’n opdrag.

Doen goed. Moenie ophou om plekke te soek waar jy kan goed doen nie. En nee, moenie jou roeping en verantwoordelikheid afkoop deur ’n paar rand vir die ou by die verkeerslig te gee nie. Jy help hom nie eintlik nie. Inteendeel, jy help hom net om môre weer daar te staan, want mense betaal hom dan om dit te doen.

Kom ons gaan die dag in en soek, soos my vriend, om elke hoek en draai ’n plek om goed te doen. Kom ons begin eers hier naby ons by ons maat, kinders en vriende. Dan daar waar ons werk. Dalk is daar ’n kollega wie ’n goeie daad nodig het. En kom ons leef orals ons opdrag uit en wees Jesus se hande en voete vir ander.

Teks

2 Tessalonisense 3:6-13

Dink bietjie hieroor

Doen jy genoeg goed aan ander?
Hoe lyk jou roeping?
Waar kan jy gaan goed doen?

Gebed

Vader, ek wil nie moeg word om goed te doen nie. Ek besef dit is ’n opdrag en my roeping. Help my om dit te onthou en te gaan uitleef. Ek wil hê mense moet U deur my goeie werke kan raaksien. Ek vra dit in die wonderlike naam van Jesus Christus. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.


GEBEDSVERSOEK
GEBEDSVERSOEK
PRAAT SAAM
PRAAT SAAM
RAAK BETROKKE
RAAK BETROKKE
ENGLISH
ENGLISH
VIDEOS
VIDEOS
WHATSAPP
WHATSAPP
ROADTRIP247
ROADTRIP247
DEPRESSIE101
DEPRESSIE10
Print Friendly, PDF & Email
(Visited 73 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *