Jou flaw God se moontlikheid

Jou flaw God se moontlikheid

Hallo Frik
Na een boekbekendstellingsaand kom my vrou na my toe en sê die mense kom na haar toe om te vra wat het ek voor in die boek vir hulle geskryf. Hulle kan dit nie uitmaak nie. Jip, dis een vak wat ek reeds in Sub A gepluk het: Skrif.

Ek is dankbaar dat daar vandag rekenaars met sleutelborde is wat elke keer elke letter presies vorm soos dit moet wees. As die Kruispadlesers my handskrif moes lees, sou ek nie een enkele leser gehad het nie.

Ek vermoed Paulus was in dieselfde bootjie. Ek weet nie of jy geweet het nie, maar Paulus het ’n sekretaris gehad wat sy briewe namens hom geskryf het. Sy handskrif was dalk ook nie so vars nie. Maar om seker te maak dat die lesers weet dit is sy eie woorde, het hy altyd hier aan die einde van sy brief die pen self opgetel.

Ek sien net die prentjie van Paulus wat agter die boekrol inskuif, die pen stewig vashou en seker sy tong so halfpad by sy mond uitdruk en dit vasbyt: 17Ek self, Paulus, sluit hierdie brief in my eie handskrif af – soos ek in al my briewe maak. Ek, Paulus, stuur hier groete aan julle in my eie hand. Dit is die bewys dat dié brief regtig van my af kom. Tot hier toe het my sekretaris neergeskryf wat ek vir julle wou sê. Maar nou skryf ek self die slotwoorde.

Daardie growwe soldaathande wat ’n swaard soos ’n ballerina deur die lug kon laat dans, was nie so gemaklik met ’n klein inkveertjie nie. Sy vingers eenvoudig te dik, te dom om die fyn draaitjies en krulletjies te maak.

Dit was eintlik ’n tekortkoming, ’n flaw in Paulus se lewe. Dis hoe hy deur die lewe gekom het. Rof en grof, en skryf was nooit eintlik op die kaarte nie. Sertifikate het hy in gevegskuns. Ondervinding het hy opgedoen deur diep spore wat hy as soldaat getrap het. Maar soos dit met sommige van ons gaan, het hy seker ook al sy skrif- eksamens met vlieënde vaandels gedop.

Eintlik was dit nie in die eerste gedeelte van sy lewe ’n probleem nie, want ’n soldaat is nie geken deur sy handskrif nie. Maar toe verander sy lewe. Paulus ontmoet die lewende God op pad na Damaskus. Hy word geroep om die Evangelie uit te dra na ’n wêreld waar Jesus se lig nog nie skyn nie.

Tog vermoed ek dat nie alles van Paulus in die 180° omwenteling in plek gekom het nie. Sy handskrif het dieselfde gebly. En nou moet jy onthou: Deel van die roeping is om briewe te skryf, sodat ons vandag nog die boodskap duidelik kan hoor.

Nou wat nou? “Ai Here,” kon Paulus seker sê, “ek is so opgewonde om U boodskap te gaan oordra. My voete jeuk en ek is opgewonde om te gaan. Ek is nie bang vir die vreemde nie. Daar is net een dingetjie wat pla. Dis die briefskrywery. U ken mos die gekrap …”

Nee, Paulus maak ’n plan met sy flaw. Hy stel vir hom ’n sekretaris aan. En dit het heel waarskynlik nie so maklik gegaan met die dikteerdery nie. Dalk was hy gefrustreerd oor die mannetjie wat nie vinnig genoeg kon skryf nie, of dalk wou die mannetjie aan die begin sommer sy eie woorde ook daar vaspen. Maar maak nie saak nie, Paulus het sy flaw oorkóm. En vandag kan ek en jy en miljoene ander Christene soveel leer uit sy geskrifte.

Hoeveel keer het ek nie al in my lewe gesê: “Jammer, daai is nie my roeping nie.” Of “Nee, ek kan nie, dis eintlik ‘n flaw wat ek het.”

Dis ’n flou verskoning. Vir jou én vir my.

Ons moet weet dat God ons sal help om daaroor te kom. Ons moet net bereid wees om nie ’n verskoning uit te dink nie. Ons moet bereid wees om ook te midde van ons oënskynlike foute en tekortkominge steeds te doen waarvoor God ons geroep het.

Hou maar net dop. God is baie goed daarin om juis ons tekortkominge te gebruik om ’n verskil in ander mense se lewens te maak. Mag dit waar word van jou lewe!

Teks

2 Tessalonisense 3:16-18

Dink bietjie hieroor

Watter flaws het jy?
Gebruik jy dit as ’n verskoning?
Hoe nou anders gemaak?

Gebed

Vader, ek dank U dat U almagtig is. Ek dank U dat U reeds ’n plan het vir al my tekortkominge. Ek weet egter nie hoe om dit te oorkom nie en gee dit nou alles in U hande. Amen.

Shalom
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 37 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *