Verras deur vrede

GOD SE WOORD IN VANDAG SE WOORDE

Verras deur vrede
Hallo

Ek kyk nie meer nuus nie, want dit is eenvoudig net nie meer vir my lekker nie. Dis nie opbouend nie. Dis die heeltyd slegte nuus. Nuus van mense wat oneerlik is. Nuus van ’n regering wat ’n swembad bou en dan sê dis ’n firepool. Nuus van oorlog. Nuus van mense wat bande aan die brand moet steek om gehoor te word. Nuus van mense wat sommer net doodgemaak word. Vir geen rede nie.

Nêrens is daar meer vrede te vind nie. Selfs in verhoudings tussen eggenote, kinders en ouers en selfs vriende raak vrede ’n skaarsheid. Daarom dat ons nie lekker voel nie. Daarom dat ons nie meer kans sien vir die lewe nie. Want vrede het op soek geraak.

Om die lewe in balans te hou, het ons vrede nodig. Hope vrede. Vrede is die gom wat mense met verskille aan mekaar vasbind. Waar daar vrede is, daar is rus, sê die Bybel.

In ons huwelike het ons ’n sak vol vrede nodig. In die verhouding tussen ouers en kinders kort daar sakke vol vrede. Die wêreld het lorries vol vreugde nodig. Tussen lande en vyande, tussen vriende en vreemdelinge, tussen ons smag ons na ware vrede.

En al plek waar ware vrede in oorvloed te vinde is, is by God: 16Die Here het vrede tussen Hom en ons gebring. God is die oorsprong van vrede. Niemand kan ware vrede ervaar as dit nie van God kom nie. Die vrede wat die wêreld probeer skep, is ’n voorgee vrede wat aan ’n dun draaitjie hang en enige tyd in duie kan stort.

Dit was juis die sonde se skuld dat daar onvrede tussen God en die mens gekom het. God was ontevrede met wat die mens op aarde aangevang het. Kyk maar na Sy spesiale volk, Israel in die Ou Testament. As dit vir ’n tydjie goed gegaan het, was dit nie lank nie voor die volk weer iets aangevang het en dan verdwyn die vrede wat tussen hulle en God was soos mis voor die son. Dis heeltyd dieselfde storie. God vergewe en bewerkstellig vrede, net totdat die volk weer ’n spanner in die wiel kom gooi.

Vir God het dit net te veel geword en toe maak Hy ’n plan. Hy trek ’n ware vredesplan op. ’n Plan wat vir ewig die vrede tussen Hom en die mens in beton sal vasgiet: Jesus moet na die aarde toe kom en sterf as straf vir die mens se sonde.

Dis die enigste plan wat kan werk. Nie ’n vredesplan wat deur mense in werking gestel is nie. Ook nie ’n plan wat deur mense uitgevoer is nie. Nee, vir ’n ware vredesplan om te werk, het ’n mens ’n God nodig.

Het jy vrede in een van jou verhoudings nodig? Dan moet jy die vrede by God gaan haal. Het jy vrede in jou besigheid of daar by die werk nodig? God sit met hope vrede.

Ek weet jy het vrede in jou lewe nodig, daarom bid ek nou graag saam met Paulus vir jou: 16… Mag Hy nou ook aan julle Sy wonderlike vrede gee. Ja! Mag God jou toegooi onder Sy vrede. Maar meer nog, 16 Mag julle dit op verrassende nuwe maniere in jul eie lewe beleef.

God soek plekke waar Hy jou elke dag kan verras. Enige plek, enige tyd. Maak jou hart daarvoor oop. Wees sensitief daarvoor. Raak rustig en wag daarvoor. Op die wonderlikste en unieke maniere sal God kom en jou oorspoel met Sy vreugde en vrede.

Teks

2 Tessalonisense 3:16-18

Dink bietjie hieroor

Waar kort jy vrede?
Het jy al by God gesoek?
Hoe nou gemaak?

Gebed

Vader, ons het hope vrede van U nodig. Eintlik is ek al so moeg van die vrede wat my die heeltyd ontwyk. Daarom kom kniel ek nou laag voor U. Ek smeek vir U vrede, want my bene kan nie meer die las van onvrede dra nie. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 68 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *