Iemand vir liefde en vrede?

Iemand vir liefde en vrede?
Hallo

’n Dokter bel my en sê daar sit ’n man voor hom wat briewe begin skryf het om klaar te maak. Hy is depressief. Die man het my naam vir die dokter gegee om hom te kom haal, want alleen kan hy nie nou gelos word nie.

Sjoe, ek het lanklaas ’n man só diep in ’n gat gesien. Hy sit skaamteloos en huil terwyl hy my die stories van sy lewe vertel. Sy geliefde vrou het hom ’n paar maande gelede verlaat. Net so, sonder enige waarskuwing. Hy kan dit nie verwerk nie en hy huil so ’n stukkie verder. En met ’n forse, opregte stem sê hy sag: “Hoekom kom haal God nie maar vir my nie? Ek sal in die plek gaan van die man wat kanker het.”

Op ’n manier gee hy vir my ’n kykie in sy hart.

En ek het nie antwoorde nie. Ek weet nie wat om te sê nie. Ek luister maar net en probeer die regte vrae vra sodat die stories kan uit. Dit op sigself is al so ’n bietjie vertroosting. Na ’n lang ruk ry ek weg. Hy is effe ligter, maar daar lê nog baie gate gesaai in sy hart en die res van sy wese.

Dit is erg om te sien wat ons aan mekaar doen. Ons saai seer. Nee, ek sê nie dis alles net die vrou se skuld nie. Dit neem altyd twee om te dans en die foute wat ons maak, is maar meestal gelykop verdeel. Op ’n manier het ons dit goed reggekry om onvrede te saai en verwoesting agter te laat.

Dalk is jy in dieselfde bootjie. Dalk nie. Dalk is jou bootjie op rustige waters. Die vraag wat jy jouself moet afvra, is of jy iets doen om daar waar nie vrede is nie, vrede te saai? Is jy die een wat help om misverstande uit die weg te ruim?

2Mag God ons Vader, en Christus Jesus ons Here, baie goed vir jou wees, meer as wat jy verdien. Mag jy hulle warm hart van liefde elke dag ervaar en mag dit vir jou daardie wonderlike vrede gee wat ’n mens net by God en Christus kan kry.

Elke mens wil liefde ervaar. Ons kan nie sonder liefde in ons petroltenke loop nie. Elke mens wil weet dat hy ’n plekkie in die son het. Ons wil in vrede leef. Ons funksioneer nie goed in ’n omgewing waar daar nie vrede heers nie.

Van hierdie liefde en vrede het God meer as genoeg. Ongelukkig weet baie mense nie van hierdie tenke vol liefde en vrede nie. Dalk weet mense hiervan, maar die lewe het hulle al so hard geslaan dat hulle nie meer daarin glo nie.

Ons moet by God uitkom sodat ons van Sy liefde kan ervaar. Ons moet by God uitkom sodat Sy vrede in ons lewens kan vasslaan. En dan moet ons elkeen God se liefde en vrede gaan uitdeel aan die mense rondom ons. Hulle het dit nodig.

Die ou van wie ek hierbo vertel het, se hele lewe val uitmekaar omdat sy liefdestenk dolleeg is. Sy hele lewe smag na ’n stukkie vrede. Daarom dat hy nie meer kans sien om aan te gaan nie. Hy het dit verskriklik nodig dat iemand sy hand neem en hom bekendstel aan God se liefde en vrede. Dit was en is só ’n groot voorreg dat ek sy hand kon neem.

Teks

1 Timoteus 1:1-2

Dink bietjie hieroor

Hoe gaan dit met jou?
Ervaar jy God se liefde en vrede?
Waar moet jy dit gaan saai?

Gebed

Hemelse Vader, ons het U liefde en vrede só nodig. Baie mense rondom ons smag daarna. Maak my oë oop en maak my voete los om ander te bedien. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 64 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *