Bril skoonmaak

Bril skoonmaak
Hallo Frik

Een van die grootste uitdagings in Paulus en Timoteus se tyd was dat daar ’n klomp manne opgestaan en gemaak het of hulle die regte antwoorde het. Hulle het gepreek dat die spoeg spat, maar hulle boodskap was nie suiwer nie en het tot allerhande twisvrae en konflik gelei. Hulle was so seker van hulself dat hulle met hulle hele wese geglo het dat hulle regtig die waarheid beet het. En tog het hulle die Waarheid gemis.

Hierdie spekskieters was rêrig ’n probleem en daarom vra Paulus vir Timoteus: 3… dat jy in Efese moes bly. Moenie daar weggaan nie, want jy moet sorg dat daardie vals predikers end kry met al die verkeerde dinge wat hulle van God vertel.

Dit is ons elkeen se verantwoordelikheid om seker te maak dat ons in die Waarheid glo. Die enigste Waarheid. Ons moet kan onderskei tussen waarheid en leuens. En dit is nie altyd so maklik nie.

Hoe weet ek dit? Want ek self het al daarin getrap. As ek terugkyk oor my lewe was daar ook tye toe ek leerstellings geglo het wat nie die volle waarheid was nie. Mense was baie ernstig dat hulle die enigste waarheid ken en ek het vir ’n wyle agter hulle aangestap net om êrens op ’n punt te besef ek het totaal en al verdwaal.

Ons het ’n groot verantwoordelikheid om seker te maak dat die waarheid waarin ons glo God se waarheid en slegs Sy waarheid is. En hier moet ons by God se Woord begin. God se Woord vertel die waarheid en daarom moet ons alles daarteen toets. As die boodskap nie ooreenstem met God se woorde nie, moet ons dit eerder los.

Tog is daar ’n probleem, want die Bybel is nie so eenvoudig nie. Ons moet onthou dat die Bybel geskryf is vir mense wat 2 000 gelede geleef het. Daardie mense se omstandighede was anders. Hulle het ’n ander taal gepraat, het ander idiome gebruik, het heeltemal anders gelewe. As ons maar net dink hoe baie die lewe die afgelope tien tot twintig jaar verander het, hoeveel te meer nie die verandering van Paulus en Timoteus se wêreld tot vandag nie.

Daarom is daar interpretasie nodig. Ons kan nie vandag alles letterlik toepas nie. As ek bv. net die maksimum van 70 el mag loop wat die ouens in die Ou Testament op die Sabbat mag geloop het, sal ek vandag nie eens by die kerk kan uitkom nie, wat nog te sê om weer terug by die huis te kom!

Ek vermoed dit is hier by die interpretasie waar die paw paw êrens die waaier tref. Elkeen van ons kyk na die Bybel deur ’n sekere bril. Die bril is gevorm deur ons ouers, die kerk, die skool, vriende en selfs vreemdelinge. Daarom kan ek en jy na dieselfde teks kyk en twee verskillende prentjies sien.

Dis as gevolg van die bril wat jy dra.

Ek het ’n nuwe bril. ’n Duur ene. ’n Multifokale een. Toe ek die bril kry, gee my oogkundige vir my ’n paar botteltjies spuitgoed en lappies met die opdrag: “Moenie jou hemp of jean gebruik om dit skoon te maak nie, want dit werk nie en sal net jou bril beskadig.”

Ek moet my bril gedurig skoonmaak, want ek kan eenvoudig net nie lekker sien as dit vuil is nie. Maar meer nog, die vuil bril maak my oë gou moeg en dan sukkel ek om die prentjies helder te sien.

Die bril wat ons dra om die woorde van die Bybel raak te sien en te verstaan, is nie altyd so skoon nie en dit kan ons prentjie van die waarheid vertroebel. Ons moet seker maak dat ons nie aan die kant val van die mense waaroor Paulus vir Timoteus waarsku nie. Ons moet meer tyd met God se Woord deurbring sodat die Heilige Gees ons kan help om ons bril skoon te maak.

Teks

1 Timoteus 1:3-7

Dink bietjie hieroor

Hoe skoon is jou bril?
Maak jy genoeg tyd vir God se Woord?
Hoe nou gemaak?

Gebed

Vader, ek besef my verantwoordelikheid om seker te maak dat ek op die regte manier na U Woord kyk. Ek weet ek moet U woorde suiwer hou en ook suiwer oordra. Help my om my bril skoon te hou. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

(Visited 41 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui