Die wet is daar vir die moeilikheidmakers

Die wet is daar vir die moeilikheidmakers
Hallo Frik

Wanneer jongmense trou, wil hulle altyd weet hoekom dit nodig is om ’n kontrak te teken. Hulle meen dit is eintlik so onnodig, want waar sal hulle nou ooit so iets nodig kry. Hulle is so lief vir mekaar en sal nooit iets aan die ander een wil doen of iets van die ander een wil vat nie. Hulle liefdestenke is vol. En dit sal mos altyd so bly …

Ek was ook hier. Ek onthou nog hoe ek en Renata voor ons huwelik een aand in ’n restaurant geëet het. Wanneer ons by mekaar was, het ons mekaar se ore van ons lywe af gepraat (ek vermoed sy meer as ek, maar ek is nou op ’n gevaarlike terrein …). Ons het na die ouer man en vrou by die tafel langs ons gekyk en dit was vreemd om te sien dat hulle net daar gesit het en niks vir mekaar te sê gehad het nie. Ons albei het dadelik vir mekaar gesê dat ons nooit niks vir mekaar te sê sal hê nie.

En raai wat, daar was al tye wat ons niks vir mekaar te sê gehad het nie. Daar was al tye wat die lug tussen ons yskoud was en dat dit gevoel het asof ons huweliksboodjie aan die sink is. Die ou oom het mos gesê aan skei het hy nooit gedink nie, maar aan moord wel.

Dit is eintlik sleg, maar ’n kontrak is nodig. Êrens langs die pad haak een se kop uit, glip oor die grense van die huwelik en ewe skielik is die ander een nie meer goed genoeg nie. Die een wat agterbly het nou ’n kontrak nodig om te help dat hy of sy nie onregverdig behandel word en met niks op die straat moet gaan sit nie.

Net so is die wet van God nodig vir die tye wanneer mense té na aan of selfs óór die grense van die lewe speel. Eintlik is die wet nie nodig vir mense wat nie naby die grense van die lewe kom nie. Hulle weet mos hoe om reg te lewe. Hulle het nie ’n wet nodig om vir hulle te wys waar reg en verkeerd lê nie, want hulle kom nooit aan die verkeerde kant van die lewe nie.

Nou vir wie is die wet bedoel? 9Die wet is eintlik nie bedoel vir mense wat leef soos God dit van hulle verwag nie. Dit is vir die ander mense bedoel. Ek praat van mense wat niks omgee vir God se wet of enige reëls nie; hulle steur hulle nie aan God nie en lê in die sonde rond; hulle maak die dinge van God belaglik; hulle het so min respek vir hulle ouers dat hulle niks daarvan dink om hulle dood te maak nie, wat nog te sê van ander mense.

Dis ’n rowwe spul mense dié. Die ouens baljaar in die sonde en gee nie ’n duit om nie. Die ouens het nie ’n gewete nie. Hulle lag vir God uit en heg geen waarde aan mense of die lewe nie.

Vir dié ouens skree die wet kliphard. Vir dié ouens is dit geensins ’n positiewe ervaring nie. Die wet is vir hulle soos die skoolhoof vir my was as ek die paadjie na die kantoor toe moes stap omdat ek alweer die klas ontstig het. Jy weet jy gaan pak kry, jy wonder net hoeveel.

Soos ’n kontrak nodig is, is die wet van God ook nodig. Wanneer jy aan die verkeerde kant is, is die kontrak net soos die wet nie jou maat nie. Daarom moet ons sorg dat ons aan die regte kant bly.

Kom ons lewe so dat ons nooit nodig het om die kontrak te loop afstof nie. Kom ons lewe so dat dit nooit nodig is om deur die wet aan die verkeerde kant gevang te word nie. Kom ons lewe so dat God se wet ons vriend bly.

Teks

1 Timoteus 1:8-17

Dink bietjie hieroor

Hoe ervaar jy God se wet?
Kom dit soms in spel?
Waar moet jy anders lewe?

Gebed

Jesus, dankie dat my geloof in U van my ’n regverdige gemaak het. U wet is vir my soos handreëlings wat keer dat ek nie by die trappe of van die balkon afval nie. My liefde vir U help my om aan U gehoorsaam te wees. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.


GEBEDSVERSOEK
GEBEDSVERSOEK
PRAAT SAAM
PRAAT SAAM
RAAK BETROKKE
RAAK BETROKKE
ENGLISH
ENGLISH
VIDEOS
VIDEOS
WHATSAPP
WHATSAPP
ROADTRIP247
ROADTRIP247
DEPRESSIE101
DEPRESSIE101
Geen kopiereg – kan gratis versprei word.
Kliek hier om uit te druk | Print Email
Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter
Print Friendly, PDF & Email
(Visited 35 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *