Die wet van God is ook daar vir my

Die wet van God is ook daar vir my
Hallo Frik

Ek het nie lekker geslaap na die vorige skryfstuk nie. Die stuk was nogal reguit en het duidelik gesê dat die wet net vir die mense is wat oor die grense van die lewe ploeter. Dis vir die ouens en vrouens wat die heeltyd verkeerde dinge doen.

Die vers is tog duidelik: 9Die wet is eintlik nie bedoel vir mense wat leef soos God dit van hulle verwag nie. Dit is vir die ander mense bedoel. Ek praat van mense wat niks omgee vir God se wet of enige reëls nie; hulle steur hulle nie aan God nie en lê in die sonde rond; hulle maak die dinge van God belaglik; hulle het so min respek vir hulle ouers dat hulle niks daarvan dink om hulle dood te maak nie, wat nog te sê van ander mense.

As ek dus volgens die wil van God lewe, beteken dit nou dat die wet nie eintlik meer vir my ’n doel het nie? Hoef ek dit nou nie meer te lees nie? Jip, dis tog die boodskap van die teks. Die wet is nutteloos vir die mense wat doen wat God van hulle verwag.

En hier besef ek waar my onrus vandaan kom, want alhoewel ek nie naastenby daaraan dink om mense dood te maak of te moor en te roof om mense se lewens te verwoes nie, val ek wel binne dié groep wat nie altyd doen wat God van my verwag nie. Sonde is nie net dit wat ek doen nie, maar ook dit wat ek nié doen nie. Kan ek dit weer sê: sonde is nie net dit wat ons verkeerd doen nie, maar dis ook dinge wat ek móét doen en nie doen nie.

God se wet is vir seker ook vir my bedoel.

God verwag van ons om goed te doen aan ander, maar soms is ons te lui en te selfsugtig en dan stap ons net verby dié wat swaarkry en doen niks. God verwag van ons om ’n verskil te maak in ander se lewens – dit is ons almal se opdrag, maar ons is dikwels so met onsself behep dat ons nie die nood in ander kan raaksien nie, wat nog te sê van tyd maak om te help. Ons programme is eenvoudig net te vol.

God se wet is vir seker ook vir my bedoel.

Kom ons neem die opsomming wat Jesus vir ons gegee het van die wet: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Doen ek dit altyd? Nee! Ek verwaarloos hierdie eenvoudige opdrag en voer dit nie altyd uit nie.

God se wet is vir seker ook vir my bedoel.

Ek word kwaad en sê dinge vir die ander een wat nie bou nie, maar breek en pyn veroorsaak.

God se wet is vir seker ook vir my bedoel.

En in vers 10 kom word ons almal saam oor die boeg gegooi: Die wet is ook bedoel vir leuenaars wie se woord nie hulle eer is nie of vir mense wat nie meer doen wat hulle as Christene geleer is om te doen nie.

Ons kan nie hiervan wegkom nie. Die wet van God is vir ons elkeen bedoel. Maar die doel van die wet is nie om ons pak te gee nie. Die doel van die wet is om ons in liefde by te staan, saggies van plan te laat verander, ons oë weg te neem van onsself en op ander te rig sodat ons God die dinge kan doen wat Hy wil hê ons moet doen.

God se wet is vir seker ook vir my bedoel om my in liefde reg te help en by te staan.

Ek dink ons bepaal self of die wet met ’n stok in die hand staan en of dit ons liefdevol gaan begelei. Dis jou keuse. Ek hoop jy kies die maklike een.

Teks

1 Timoteus 1:8-17

Dink bietjie hieroor

Besef jy dat God se wet ook vir jou is?
Waar doen jy nie wat jy moet doen nie?
Waar moet jy anders lewe?

Gebed

Onse Vader, ek weet dat die wet ook daar is vir my. Ek weet dat dit my in liefde wil help. Soms is ek net so halsstarrig. Mag U Gees my help om meer te doen wat ek moet doen en minder te doen wat ek nie moet doen nie. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 37 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *