Just do it!

Just do it!
Hallo Frik

Paulus is ’n baie interessante karakter. Hy is een van daai mense wat
alles volspoed doen. Toe hy ’n soldaat was, het hy sy werk baie ernstig
opgeneem en geen steen onaangeraak gelaat om die Christene uit te snuffel en
hulle dan in die tronk te gooi nie.

Dieselfde is ook waar van sy lewe nadat hy tot inkeer gekom het. Met
alles in hom het hy al die stoppe uitgetrek om die evangelie aan mense te bring
wat nog nooit van Jesus gehoor het nie. Vir hom is dit só ’n groot voorreg: 12Ek
is Christus Jesus baie dankbaar dat Hy my vertrou en my gevra het om hierdie
werk vir Hom te doen.

Paulus kan amper nie glo dat God hom toegelaat het om in Sy Koninkryk te
werk nie. Hy het soveel verkeerde dinge in sy lewe gedoen voor sy ontmoeting met
Jesus op pad na Damaskus. Hy was amper die grootste vyand van die Christendom
en hy was die oorsaak dat baie van hulle doodgemaak is. En nou gebruik God juis
vir hóm om die wêreld vir Jesus aan die brand te steek. Daarom vloei daar dankbaarheid
uit hom.

Ek staan ook in verwondering dat God vir my, met my geskiedenis en doen
en late, toelaat om in Sy Koninkryk te woel. Ek besef maar net weer dat God
krom stokke gebruik en omdat Hy daarby betrokke is, word reguit houe geslaan.

Baie trap hier in ’n gat en gebruik hulle verlede as ’n verskoning waarom
hulle nie in God se Koninkryk kan werk nie. Baie sê hulle is te sleg, of hulle glo
hulle het dinge gedoen wat net té erg is. God sal my nooit kan gebruik nie, sê
hulle.

Wel, ek het nuus vir jou. Dis juis vir jóú wat God wil gebruik. Jy sien,
jy het die ondervinding. Jy kan juis die taal praat van die ouens wat aan die
verkeerde kant vasgeval is. Hulle hoor juis vir jou. Hulle verstaan nie die
ouens wat op kansels staan se woorde en taal nie. Maar jy met jou gewone manier
van praat, jou woorde bring lig in hulle donker wêreld.

Wanneer gaan jy gehoor gee aan die oproep van God? Wanneer gaan jy begin
om daar waar jy woon, werk en speel God se lig uit te dra? God het vir jou so
baie gedoen. Wanneer beweeg jou dankbaarheid jou na buite?

Ja, ek weet ons is bang ons slaan ons naam met ’n plank. Ek vermoed
Paulus het ook so gevoel. Hy het seker ook gewonder hoe sou die ander Christene
hom aanvaar, die ou wat hulle eers gejaag het. Sou hulle na hom luister of met
klippe gooi?

Maar Paulus het dit aan sy lyf gevoel dat Hy dit nie alleen hoef te doen
nie. Op sy eie is hy te swak en sy petrol te min. Daarom getuig hy: Hy (God)
gee my ook die krag om dit te kan doen.

Ek hoef nie op my eie krag staat te maak om God se dinge hier op die aarde
te doen nie. Dankie tog, want ek weet ek sal net meer gemors aanvang as iets
anders.

En dis ook die goeie nuus vir jou. Jy hoef nie vir God op eie stoom te
werk nie. Hy sal vir jou die krag gee. Hy sal die woorde op jou tong lê. Hy sal
vir jou die moed en durf gee om op te staan en ander sal vir jou begin respek
kry. Weet en glo dit met jou hele hart en weet ook dat God jou betroubaar ag om
Sy werk hier op aarde te doen.

Daarom leen ek Nike se slagspreuk: Just
do it
! In volle vaart!

Teks

1 Timoteus 1:8-17

Om oor na te dink

Hoe lyk jou verlede?
Wat keer jou om vir God te werk?
Glo jy dat God jou die krag en moed sal gee?

Gebed

Vader, ek
moet bieg dat ek bang is om daar waar ek werk, woon en speel sommer net so U
lig te laat skyn. Ek voel baie keer dat ek te eenvoudig, te sondig, te min is.
Help my om in U krag uit te gaan en ’n verskil te maak! Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 42 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *