God oorspoel ons met Sy goedheid

God oorspoel ons met Sy goedheid
Hallo Frik

Ek het ’n vriend wat baie jare gelede iets verkeerd gedoen het. Een Vrydagmiddag staan daar ’n speurder voor sy huis en stop ’n lasbrief vir arrestasie in sy hand. Hy sit die hele naweek agter die tralies. Wat alles daardie naweek met hom gebeur het, is eenvoudig net te aaklig om te beskryf.

Die Maandag kom hy getraumatiseerd by my aan. Hy weet nie hoe om vorentoe te loop nie. Inteendeel, hy sien eenvoudig net nie meer kans nie. Die lewe druk te veel. Voor elke verskyning in die hof, slaap hy nie. Hy is bang. Hy is onseker. Hy is gespanne. Hy is stil. Hy is kwaad. Hy voel sleg. Dis amper asof hy ’n gedaanteverwisseling ondergaan het. Die situasie lê soos ’n berg voor hom wat hy nie kan of wil uitklim nie.

En ewe skielik verander alles. Hy is anders. Hy is nie meer kwaad nie en spanning is nie meer deel van sy daaglikse spyskaart nie. Hy lyk en voel baie goed. Hy glimlag van oor tot oor. Jy kan sommer sien hy is op ’n happy place. Hy borrel oor en niks kan hom keer nie. Hy weet presies waarheen hy op pad is en niks staan meer in sy pad nie. Selfs die hofsake teen hom kan nie meer die lewe se handbriek vir hom optrek nie.

Die oorsaak van die ommekeer? Dis God, sê hy. Hy het sy saak met God reggemaak. Hy het sy sondes bely en God vir vergifnis gevra. Eintlik kan sy getuienis met die vers opgesom word: 14Die Here het my toe eenvoudig oorweldig met sy goedheid. By Hom het ek geleer om op Hom te vertrou en om ander lief te hê soos Hy my liefhet.

Van die kantlyn af kan ek dit 100% beaam, want hierdie verandering in my vriend se lewe kan net deur God gedoen wees. Geen mens is in staat om só ’n geweldige ommeswaai in iemand se lewe te bewerkstellig nie.

Hy vertel dat hy glad nie meer bang is of homself opwerk voor ’n hofverskyning nie. God het hom oorweldig met Sy goedheid. Hy ervaar dit aan sy lyf. Hy ervaar dit in sy besigheid – hy het nog nooit soveel werk gehad nie.

Een van die grootste boustene is dat God hom geleer het om op Hom te vertrou. Hy moes sy vrese een vir een by God gaan neersit. Hy moes die onsekerhede van wat met hom en sy gesin kan gebeur by God gaan neersit. Selfs die uitsprake wat kom moes hy ook een vir een in God se hande neersit. Ja, hy moes leer om met elke tree op God te vertrou.

En die gevolg? Hy kyk nie meer net in homself vas nie. Hy sien ander raak. Hy sien ander se behoeftes raak. Hy vra nie die heeltyd wat hy van ander kan kry nie, maar eerder wat kan hy gee.

My vriend het sy hand begin oopmaak om vir ander te gee en sonder om dit te besef, het God ’n plek gekry om Sy goedheid af te pak.

My vriend is sigbaar anders omdat hy in God vasgeloop het.

Ons moet uit mekaar se stories leer. Ons moet leer dat ons na God moet keer en Hom innooi. Ons moet ruimte maak vir Hom om in ons lewe te woel. Ons moet ruimte maak en Hom toelaat om Sy goedheid in ons lewe los te laat. Ons moet weer op God vertrou en al ons onsekerhede en vrese by Hom gaan afpak. God sal ons red uit ons verknorsing, maak nie saak hoe woes dit gaan nie. Hy kan ons omdraai en verander. Ons sal weer lief word vir ander en anders begin lewe …

Dalk het jy die boodskap vandag nodig. Mag dit dan ook waar word van jou lewe.

Teks

1 Tim 1:8-17

Dink bietjie hieroor

Word jy deur God se goedheid oorlaai?
Vertrou jy op God?
Is jy bereid om deur God verander en nuut gemaak te word?

Gebed

Vader, ons almal het U goedheid en U genade nodig. Neem ons lewe in U hande. Vorm ons en maak ons soos U wil. Ons wil graag ons vertroue in U sit. Help ons om dit reg te kry. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 33 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *