God se prentjie word waar

GOD SE WOORD IN VANDAG SE WOORDE

God se prentjie word waar
Hallo Frik

As jy die voorreg sou hê om God se prentjie van die wêreld te sien, wat dink jy sou jy daarin sien? Wanneer sal 2 Julle sal die vrugte daarvan pluk, want julle sal dan in rus en vrede julle gang kan gaan en kan leef soos God wil hê julle moet leef, waar word in ons wêreld?

Wanneer gaan rus en vrede tog oor ons neerdaal? Gaan dit wees wanneer daar ’n nuwe regering aangestel word? Gaan dit wees wanneer elke moordenaar en misdadiger agter tralies sit? Wanneer gaan alles tog ophou?

Ek vermoed daar is net een antwoord op al die vrae: Die dag as al die mense die verlossing van Jesus Christus aanvaar het: 4God wil hê alle mense moet na Hom toe kom en by Hom leer wat waar is.

Dit is God se droom. Dit is God se prentjie vir ons wêreld – dat elke liewe siel by Hom moet uitkom. Dan sal die wêreld oorspoel word met rus en vrede. Maar as ek so om my kyk, is ons wêreld nog vêr van dié prentjie af.

Kyk maar watter prentjies pop elke nou en dan op jou Facebook muur as jy so scroll. Moord, motorkaping, landskaping, bedrog, diefstal, verkragting, ag en wat nog alles. Dit lê die hele wêreld vol. En die rede hiervoor is dat God se prentjie nog nie ten volle waar geword het nie.

Ek vermoed ons almal het hierin ’n aandeel. Dis omdat ons nie ons werk doen nie dat die wêreld só lyk. God word nie aan die mense van die wêreld gewys nie. Mense sien nie God se hande en voete raak nie, want ons steek dit mooi netjies in ons huise weg.

Ons ry verby die swaar en seer. Ons is meer met onsself en ons eie drome behep. Ons hart is nie God se hart nie. Inteendeel. Ons kry die een rede na die ander om eerder veilig tuis te bly as om ons energie in die bou van God se Nuwe Wêreld te sit.

Dalk is ek nou te hard, maar soms moet ons gekonfronteer word met die ware feite. Tot ’n grote mate lyk die wêreld daar buite soos dit lyk omdat onreg seëvier. Ons het heel waarskynlik nie deel daaraan nie (ja, sommige van ons het tog), maar die vraag is eerder: Wat doen ons daaraan? Help ons om dit te keer? Hoe help ons dat God se prentjie deel raak van die wêreld rondom ons? Hoe help ons dat God se prentjie van volkome toewyding aan Hom realiseer?

Ek laat sak my kop in skaamte, want ek besef dat ek dikwels besig is met my eie prentjie en dat ek nie altyd God se prentjie raaksien nie.

Ons moet weer terugkeer na opsie A in vers 1 van die hoofstuk. Ons moet begin om vir mekaar te bid. Ons moet bid vir die regering, vir ons vriende en familie, vir ons kollegas en ons werknemers, vir almal moet ons bid dat hulle sal oorgee in God se hande.

Maar meer nog, ons moet doen. Ons moet Jesus se hande en voete wees waar ons gaan, want mense sien makliker as wat hulle hoor. Wanneer God in aksie is deur ons doen en late, neem God se prentjie vorm aan en sal rus en vrede neerdaal.

En 3So hoort dit en so hou God, wat ons gered het, daarvan.

Teks

1 Timoteus 2:1-7

Dink bietjie hieroor

Help jy om God se prentjie te laat waar word?
Bid jy vir ander?
Wat kan jy meer doen?

Gebed

Hemelse Vader, die meeste van ons smag na rus en vrede en liefde. Help my om minder gejaagd te wees, om in vrede met alle mense te leef en om U liefde aan ander te bewys. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 32 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *