Jesus bou ’n brug

GOD SE WOORD IN VANDAG SE WOORDE

Jesus bou ’n brug
Hallo Frik

Die kern van ons geloof is so eenvoudig5Daar is mos net een God en daar is net een Mens wat ons kan help om by God uit te kom, en dit is Christus Jesus. 6Hy het die prys betaal wat nodig was sodat ons saak met God weer reg kon wees; ja, Hy het Homself daarvoor gegee. Op die regte tyd het Hy gewys dat God mense graag by Hom wil hê.

Dit is die beste nuus wat ons sondige mense ooit kan hoor.

Op ons eie kan ons eenvoudig nie van die las van sonde ontslae raak nie. Sonde het gemaak dat ons nie by God kan uitkom nie. Sonde veroorsaak dat ons eintlik die heeltyd wegbeur van God.

Ja, sonde het ’n vallei so wyd en diep kom grawe dat ons nooit by God kan uitkom nie. Daar is niks, maar niks wat die mens kan doen om by God uit te kom nie. Wanneer ons sonde doen, of dit nou ’n wit leuentjie is of bedrog, of steel of moord of eenvoudig net nie doen wat God wil hê ons moet doen nie, maak dit die vallei net dieper en wyer. ’n Goeie daad of selfs tien of ’n duisend kan nie die vallei tussen ons en God kleiner maak nie.

Verstaan dit mooi: Die mens kan niks doen om reg te maak wat hy verkeerd gedoen het nie. Daar is nie ’n sonde uitveër tot die mens se beskikking nie. Dit is ’n nare storie met ’n nare einde.

Maar dank die Vader dat Hy oorloop van liefde vir Sy skepsels. Hy kan homself nie keer om tot die mens se redding te kom nie. Dank Hom dat Hy Sy seun gestuur het om die brug te bou vir die mens sodat ons ’n kans het om die ewige dood vry te spring.

Daar is ’n tekenprentjie waar die mens aan die een kant van die diep vallei staan. Daar is geen manier waarop die mens aan die kant waar God is, kan uitkom nie. In die volgende prentjie word Jesus se kruis geteken, wat die brug vorm oor die vallei. In die derde prentjie stap die mens op Jesus se kruis om by God se kant uit te kom.

Die verlossingsboodskap is so eenvoudig. Tog moet ons nooit die prys wat daarvoor betaal is ligtelik opneem nie. Dit is God se Seun wat nie net Homself moes verneder om aarde toe te kom nie, maar Hy moes ook toelaat dat die mense Hom doodmaak.

Jesus was die enigste oplossing vir die mens se groot penarie. Jy sien, slegs ’n persoon sonder enige sonde kon kwalifiseer vir hierdie taak en dis net Jesus wat dié posisie kon vul. Ek wonder wat het deur Jesus se kop gegaan toe Hy en God besluit het dat Hy Sy lewe moes gee vir ’n klomp sondige mense. Gelukkig loop God en Jesus se liefde so oor dat niks hulle kon keer om die reddingsplan in werking te stel nie.

Wow! Besef jy hoe besonders jy is dat God bereid is om sy Seun vir jou te stuur, sodat Hy die brug kan bou vir jou om oor te stap om aan God se kant te wees?

As jy dit besef, kan jy mos nie anders as om elke oomblik van die dag oor te loop van dankbaarheid nie. Dan wil, sal, kan, mag, moet ek en jy om elke hoek en draai ’n plekkie soek om ons dankbaarheid te laat grondvat en ’n verskil in ander se lewens maak.

Teks

1 Tim 2:1-7

Dink bietjie hieroor

Verstaan jy wat God vir jou gedoen het?
Is God se verlossing deel van jou?
Hoe leef jy dit uit?

Gebed

Vader, hoe groot is U liefde vir my nie? Hoe klein klink ’n dankie dan nie nou nie. Uit dankbaarheid wil ek van nou af elke oomblik leef. Ek wil orals waar ek gaan plekkies gaan soek om my dankbaarheid vir U liefde te gaan uitleef. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 72 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *