Jesus gee nooit moed op nie

Jesus gee nooit moed op nie
Hallo Frik

Santa vertel:

Dit laat my weer terugdink aan die donker jaar van my lewe – my negentienjarige dogter was besig met haar studies. Sy en haar vriende het altyd lekker gekuier, maar op ’n stadium het my man ’n vermoede gehad dat hulle snaakse dinge aanvang.

Een Maandagaand kry ons die tyding dat haar vriend in ’n ongeluk oorlede is – hy het self bestuur en die vermoede was dat dit a.g.v. ’n oordosis heroin was! Ons was lief vir hom en dit was ’n geweldige skok.

Omtrent ’n maand later het iemand wat onbekend wou bly, my geskakel en gewaarsku dat sy my dogter saam met twee ander vriende gesien onderhandel het en dit het gelyk of dit i.v.m. heroin was. Ek kan jou nie beskryf hoe ek gevoel het nie.

Op daardie oomblik, deur die leiding van die Heilige Gees, het ek dadelik vir God gevra vir Sy krag en wat my nou te doen staan.

Ek het daardie selfde dag met my dogter gesels en sy het erken dat sy ook heroin gebruik! Ons almal het saam ernstig gebid, want ons het net geweet dat God ons wil leer om nie van Hom te vergeet nie.

My dogter was ‘gehok’ en sy het toe baie streng behandeling gekry, saam met baie trane. Dit was so ’n moeilike tyd vir ons almal. Maar gelukkig, danksy ons Vader se genadige liefde, krag en leiding was sy teen November skoon! Die Lig het sterk deurgekom teen die einde van die jaar!

Vandag is sy gelukkig getroud met ’n wonderlike man vir wie sy en ons almal lief is.

Êrens in ons lewe kom ons almal by ’n plek waar ons nie goeie keuses maak nie. Sommige van ons se keuses is dalk bietjie erger, soos Santa se dogter wat besluit het om heroin te vat. Wat vir my besonders in die verhaal van Santa en haar dogter is, is dat sy haar nie weggestoot het toe sy uitvind van haar verslawing nie. Sy het dadelik na God gedraai en toe haar dogter gehelp, soms ferm, om oor die verslawing te kom. En met genade van Bo het die storie ’n goeie einde.

Dis liefde wat so maak. Liefde sien oor die verkeerde verlede. Liefde sien oor die graad van die misstap. Liefde droom oor ’n beter môre. Liefde wil ander altyd help, al moet dit soms met ’n ferm hand wees.

Dit is presies wat God doen. Soos Paulus getuig: 16… Slegter as wat ek was, kan niemand wees nie, maar so het Jesus duidelik gewys dat Hy nie moed verloor met selfs die slegstes onder ons nie. Ons moet dit onthou as voorbeeld vir almal wat Jesus nog gaan teëkom en wat dan vir ewig saam met God gaan lewe omdat hulle op Jesus vertrou.

Hoeveel keer het ek myself nie al betrap dat ek dink dat daardie persoon eenvoudig te ver van die pad af is om ooit by die Here uit te kom nie. Net om later deur dieselfde, maar nou ook totaal omgekeerde persoon, vas te loop wat nie kan ophou praat oor die goedheid van God nie.

Niemand is ooit te sleg om deel te kan hê in Jesus se genade en verlossing nie. Hy sal hulle nooit uitskuif nie. Sy liefde, net soos Santa se liefde vir haar dogter, is net te veel om die mens op sy eie te los. Jesus gee nooit moed op nie. Laat ons daarom na almal rondom ons met dieselfde bril kyk en hulle in liefde behandel. Die kans is goed dat hulle saam met ons eendag by Jesus gaan opdaag.

Teks

1 Timoteus 1:8-17

Dink bietjie hieroor

Is daar dade waarvoor jy jouself nog moet vergewe?
Is daar iemand wat jy nie kan vergewe nie?
Wat moet jy doen om ook hier vergifnis te bring?

Gebed

Vader, hoe lank moet U nie wag vir U kinders wat mors nie? Hoe seer moet U hart nie al wees nie? Ek wil na U toe kom. Ek wil op U skoot sit en rus in U genade. Ek wil ook my vriende wat mors, help om nader aan U te kom. Dankie dat Jesus dit vir ons moontlik maak. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.


GEBEDSVERSOEK
GEBEDSVERSOEK
PRAAT SAAM
PRAAT SAAM
RAAK BETROKKE
RAAK BETROKKE
ENGLISH
ENGLISH
VIDEOS
VIDEOS
WHATSAPP
WHATSAPP
ROADTRIP247
ROADTRIP247
DEPRESSIE101
DEPRESSIE101
Geen kopiereg – kan gratis versprei word.
Kliek hier om uit te druk | Print Email
Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter
Print Friendly, PDF & Email
(Visited 39 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *