Op pad na 10 uit 10

GOD SE WOORD IN VANDAG SE WOORDE

Op pad na 10 uit 10
Hallo Frik

In vandag se terme is Paulus Timoteus se Google. Al die inligting wat Timoteus nodig het om die kerke te bestuur, borrel by Paulus se pen uit. Of dit nou is oor die rol van die vroue, wat hulle mag doen en wat nie en of dit nou is wat die leiers moet doen of nie doen nie, oor alles lê Paulus ’n paar eiers. Dit is juis die leiers se prentjie wat volgende geteken word. Tog kan almal maar nader staan, want ons almal moet op ’n manier ook in dié prentjie kan pas. Luister dus saam.

  • Jou lewe moet so skoon en oop wees dat niemand jou naam kan beswadder nie.
  • Daar moet nie plek wees vir ’n ander man/vrou in jou lewe nie.
  • Jy moenie uitspattig lewe nie.
  • Jy moet omgee vir wat jy doen.
  • Jy moet ordentlik lewe.
  • Met ’n hart wat brand vir ander mense, moet jy ’n verskil maak.
  • Jy moet ander van God vertel.
  • Wanneer jy alkohol gebruik, moet dit met wysheid gepaard gaan.
  • Jy moet jou humeur beteuel en nie skoor soek nie.
  • Jy moet verseker vriendelik wees.
  • Geld moet jou nie aan jou neus lei nie.
  • Jy moet tyd met jou kinders deurbring sodat jy hulle kan leer en wys hoe om ander te respekteer.
  • Moenie te veel van jouself dink nie. Dan doen jy net soos die duiwel.
  • Jou lewe moet so onberispelik wees dat niemand ’n vinger kan wys of selfs ’n storie kan opmaak nie.

Omtrent al hierdie punte is van toepassing op elke Christen. Ja, leiers moet sorg dat al die voorskrifte deel is van hulle mondering, maar dit verskoon nie enige Christen om ook binne dié lyne te lewe nie.

Wanneer ’n mens so ’n lysie kry, wil jy mos gou ’n rooi pen gaan haal en jouself ’n punt gee om te sien of jy dit maak of nie.

Dit laat dink my aan die fliek “She is out of my league”. Hier het ’n groep vriende mekaar punte gegee om te sien waar hulle val. Elkeen in die groepie het begin met 10 uit 10, maar het na gelang van hulle werk, vriend of vriendin, tipe kar ensovoorts punte verloor. Daarom was die een ’n 6 uit 10 en ’n ander 7 of 8 uit tien. Die een ou, wat 6 uit 10 was, ontmoet toe ’n 10 uit 10 meisie. Alles was reg van haar. Hy probeer toe egter om haar af te kry na sy standaard.

Die draaipunt in die fliek is egter wanneer hy besef dat hy eerder moet probeer om by haar 10 uit 10 te kom. Die fliek het uiteindelik ’n goeie einde waar hy ook 10 uit 10 verdien deur sy manier van doen.

Wanneer ek en jy egter na die lysie hier bo kyk, besef mens terdeë dat jy vêr weg is van volpunte. Hoe hanteer ’n mens dit? Ons kan natuurlik in depressie verval voordat ons begin en handdoek ingooi. Ek is te sleg. Ek is te swak. Ek sal dit nooit maak nie. Wanneer jy dié rigting inslaan, is die kans baie goed dat jy dit nooit sal maak nie. Dan sleep jy eenvoudig net te veel bagasie saam.

Of jy kan met die hulp van die Heilige Gees en Sy wysheid na die lysie gaan en vra: Watter van die punte staan vir my uit? Watter een of twee of drie van die rigtinggewers praat met my as ek dit lees?

Dan moet jy weet dat dit dalk iets is waaraan God wil hê jy moet aandag gee. Ek weet jy weet waarvan ek praat. Daardie paar sinne wat elke keer pla as jy dit in die Bybel raaklees. Dit is nou die tyd om ’n aksieplan op te stel en aandag te gee daaraan. God wys dit vir jou uit en Hy wil jou daarmee help. Miskien is dit nou die tyd om daaraan te begin werk, sodat ons meer uit 10 kan kry – nie ter wille van onsself nie, maar uit dankbaarheid teenoor God!

Teks

1 Timoteus 3:1-7

Dink bietjie hieroor

Lees weer die lysie.
Watter punte staan vir jou uit?
Wat gaan jy daaraan doen?

Gebed

Here, U verwag ’n hoë standaard van U kinders. U bloed het my vrygemaak van die bande wat die sonde om my gehad het. Nou is ek deur U krag in staat om vry en skoon te leef. Ek is nie meer in die mag van die sonde nie. Help my om in U lig te leef. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 52 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *