Jy glo in die waarheid

Jy glo in die waarheid
Hallo Frik

Het jy al gewonder of jy die regte godsdiens beet het? Wanneer ek so na al die ander godsdienste kyk en sien hoe dedicated hulle is, hoeveel moeite hulle doen en die ure wat hulle opoffer vir hulle geloof, het ek ook al gewonder of ons op die regte paadjie is.

Was ek dalk net gelukkig om in ’n Christelike huis groot te word? Waar sou ek vandag gewees het as ek van jongs af aan ander godsdienste blootgestel was? Dan twyfel ek nog sterker. Ek sluit gewoonlik die warboel van gedagtes af met vertroostende denke oor een van my Teologie dosente, prof. Willie Jonker, en sê as hý aan die Christelike geloof vashou, is dit sekerlik reg.

Vra jy ook soms die vraag?

Gelukkig hoef ons nie net aan sulke gimnastiek met ons denke vas te hou nie, want die Bybel kom gee vir ons gemoedsrus: 16Oor een ding hoef ’n mens nie te twyfel nie, naamlik dat ons godsdiens nie iets is wat ons kon uitgedink het nie. Dit was God se geheim en gaan oor Jesus: “Jesus het mens geword en die Gees het dubbel en dwars beklemtoon dat Jesus aan die regte kant staan. Die hemelse wesens het Hom gesien, sy boodskappers het al die nasies van Hom vertel en deur die hele wêreld het mense in Hom begin glo. Hy is na God toe in die hemel waar almal kan sien hoe belangrik Hy is.”

Hoe het ons as kinders gesê? Dit is true soos nannies! Jy kan nou maar ophou wonder of ons in die regte God glo. Hier sê Paulus dit vir ons in ’n brief wat amper 2 000 jaar gelede geskryf is. En sentraal in ons geloof hang Jesus aan die kruis waar Hy vir my en jou die hekke van die hemel oopgesterf het.

Nou kan jy vir my sê dat daar in ander gelowe ook sulke “redders” was. Waar lê die verskil dan? In die feit dat Jesus nie aan ’n kruis bly hang het of in ’n graf bly lê het nie. Nee, ons Jesus is anders, want God het Hom laat opstaan uit die dood. Hy het Hom laat opvaar na die hemel, waar “Hy aan die regte kant staan”.

Jy sien, God is sterker as die dood. Vir al die ander godsdienste is hierdie laaste hekkie die een waaroor hulle elke keer val. Dit is hier waar die spreekwoord, die koring word van die kaf geskei, begin sin maak.

Dankie tog! Ons ís op die regte pad!

Dit weet ek nou, maar die vraag is nou: “Wat gebeur met mý as ek besef ek is op die regte pad?” Verander dit die manier waarop ek leef?

Dit is vrae wat net jy saam met die Heilige Gees wat in jou oor fluister, kan beantwoord.

Soos ek dit verstaan, moet daar êrens iets anders wees. Op ’n manier moet ek nou dit waarin ek glo, uitleef. Die oorspring van die laaste hekkie moet so sigbaar word in my lewe dat ander nie anders kan as om ook te wil weet wie is die Een wat nou my lewe beheer nie.

Wat beteken dit in Afrikaans? Gaan leef jou lewe as ’n verloste kind van die ware God. Gaan maak ’n verskil aan alle mense daar buite – maak nie saak waarin hulle glo nie. Gaan vertel van die verlossing en vryheid wat jy ontvang het. Reik uit na die mense in nood – gee ’n stuk brood.

Dan is ons ook anders!

Teks

1 Timoteus 3:14-16

Dink bietjie hieroor

Twyfel jy soms of jy in die “regte” godsdiens glo?
Kan ons verseker glo dat ons God die “regte” God is? Hoekom?
Hoe kan jy dit vandag gaan uitleef?

Gebed

Here, dankie dat ek in U, die enigste lewende God kan glo. Help my om so te leef dat dit my geloof weerspieël. Mag ander anders wees, omdat ek juis daardie geloof uitleef. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 50 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *