Oefen vir dien en diens

GOD SE WOORD IN VANDAG SE WOORDE

Oefen vir dien en diens
Hallo

Ons laat dikwels toe dat ons ge-side track word. Ons raak betrokke by stories en vraagstukke wat eintlik net mooi niks uit te waai het met ons saligheid nie. Ons maak ons moeg met vraagstukke wat eintlik nie antwoorde het nie. Die ergste van alles is dat ons aan die einde van die dag nie genoeg krag en tyd oorhet om uit te kom waar ons moet nie. Dit is soos Jesus in Matteus 22:37 sê: Ons moet God liefhê met ons hele hart, ons hele siel en al ons verstand.

Jy sien, hierdie liefde is nie net in die kop nie, m.a.w. ’n wilsbesluit om lief te hê nie. Hierdie liefde loop ook uit die hart uit. Dis ’n emosie wat jy nie kan keer nie. Maar dis meer as net in die hart, dis ook jou hele siel. Jou hele wese moet oorloop van liefde vir God. En hoe kan ons dan anders? God het soveel vir ons gedoen. Hy het ons kom red van die logiese gevolg van voortdurende en onbelyde sonde.

Wanneer ons regtig besef wat God vir ons deur Jesus aan die kruis gedoen het, kan ons mos nie anders as om met ons hele wese oor te loop van liefde nie. Hier is nie plek vir praatjies en woordspeletjies nie. Hier is nog minder plek om bedien te word, maar eerder om te dien. Jy wil vir God dien. In plaas daarvan dat jy teen verkeerde bome blaf, 7… sorg jy liewer dat jy God reg dien.

Dien God met jou verstand. Dien God met jou siel. Dien God met jou hart. As jy dit kan regkry, sal die wêreld anders lyk. Net jammer dat dit nie maklik kom nie. Ons is mos anders geprogrammeer. Ons wil die beste doen, maar as ons ons weer kom kry, staan ons aan die verkeerde kant van dit wat ons eintlik graag wil doen.

Ja, ons gaan struikel en soms val, maar ons moet weer opstaan en probeer om volgende keer met meer sukses te dien. Die 1983-vertaling praat van oefen: 7… Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe.

En ons almal weet mos oefen is nie lekker nie. Dit kom nie maklik vir almal nie. Ek tel nou die dag ’n vriend van my seun op. Hy is ’n kranige sportman en oefen hard. Ek vertel hom van my drawwery. (My tjommie praat eintlik van my shuffle, want hy sê ek kan dit nie draf noem nie, omdat ek vinniger stap as wat ek hardloop.)

Ek sê vir my seun se vriend dat ek rêrig niks van draf hou nie. Dit voel soos ’n ou bakkie wat op ’n sinkplaatpad ry. Alles raas en voel of dit uitmekaar skud. Hy haak af en gee die groot waarheid en sê: ”Oom, hou net aan, dit raak makliker. Later kom dit sommer vanself.”

Groot waarheid uit ’n jong mannetjie se mond.

En dit is wat ons moet doen om God met alles in ons te dien. Nou waar begin ’n mens oefen om God te dien. Sommer daar in jou huis, daar by die mense naaste aan jou. In plaas van die heeltyd oophand staan, géé. Gee sonder om iets terug te verwag. Gee liefde. Gee vergifnis. Gee tyd. Gee om. Gee soos God sou gee. Deur jou dade sal ander dan vir God raaksien.

Oefen elke dag om God te dien. Soek om elke hoek en draai plekkies om ander te dien. Al val jy, staan weer op. Dis deel van die oefen. Solank jy net orals waar jy gaan, dien.

Teks

1 Timoteus 4:6-16

Dink bietjie hieroor

Dien jy vir God?
Dien jy ander?
Sal jy meer oefen om te dien?

Gebed

Here, ek het al by tye my tyd gemors om my met nuttelose redenasies en vraagstukke op te hou. Help my asseblief om eerder my tyd te gebruik om goed te doen aan ander, sodat hulle U teenwoordigheid hier op aarde kan beleef. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 12 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *