Kom jou etiek karretjie se wiele ook soms af?

GOD SE WOORD IN VANDAG SE WOORDE

Kom jou etiek karretjie se wiele ook soms af?
Hallo Frik

Ek onthou die insident soos gister toe ek nog in die koöperatiewe wêreld gewerk het. Ons leierskapsgroep het ’n sessie by die vaardigheidsontwikkelings-konsultant gehad. Dit het gegaan oor die etiek waarop jy jou lewe bou, nie net by die werk nie, maar ook by die huis. Ons word gevra om ’n paar goed neer te skryf soos ons grafskrif, negatiewe en positiewe etiese waardes, ens.

Dit het my lank laat dink, veral die een oor wat mense eendag op jou grafskrif oor jou sal skryf. Amper ’n one liner vir wat jy in die wêreld nagelaat het. Ek het lank gedink oor die rytjie woorde wat ek eendag gaan nalaat. Ek sal dankbaar wees as my mense eendag op my klip skryf: Hy hét ’n verskil gemaak!

Die neerskryf van die negatiewe, wat ek nooit sal najaag nie en positiewe etiese waardes wat die basis vorm van my doel in die lewe, was eintlik maklik.

Eerlikheid, deursigtigheid, nie geld onderdeur die tafel vat nie, ander met respek behandel, om die heeltyd liefde uit te leef en nog vele meer het sommer so uit die pen gevloei. Dit was ’n lekker sessie.

Net daarna is ek na my kantoor. Daar bespreek ons toe die gebruik van die bakkie om mense na die werk aan te ry. Ewe skielik kom die mense met onregverdige vereistes: almal moet dieselfde betaal, maak nie saak wie waar opklim op die pad nie. Hierdie vervoer is ’n voorreg en nie ’n reg nie. Ek is sommer kwaad dat die mense net wil vat en nie omgee as ander skade ly nie. Ek tel spoed op en begin al hoe harder praat.

Toe dit uit is, ruk ek tot stilstand. Ek kry skaam. So vinnig het die ink vanoggend gevloei met die etiese waardes wat ek onderskraag en wat deel vorm van my bewerking van die lewe en nou? ’n Paar minute later moet ek my kop in skaamte laat sak, want my mond het nie ander mense gerespekteer nie. Op ’n manier het my etiek karretjie se wiele afgekom.

In 1 Timoteus 5 is Paulus besig om vir Timoteus te leer oor etiek. Hy leer hom hoe om met mense te werk en hoe hulle hanteer moet word:

  • Moenie kwaai praat nie.
  • Hanteer mense asof dit jou eie familie is.
  • Hanteer hulle met respek sodat hulle jou ook sal respekteer.
  • Kyk mooi na die mense wat swaarkry – bring hoop en verligting.
  • Maak jou dankbaarheid vir alles sigbaar.
  • Hy gee selfs ’n waarskuwing – moenie ter wille van geldelike moeilikheid jou waardes by die deur uitgooi en jou liggaam vir geld verruil nie.
  • Moenie verkeerde dinge doen nie.
  • Sorg vir jou families.

Ja, gou stel ons mooi lysies op van waardes en etiek goeters, maar wat gebeur as dinge nie loop soos wat ons dit wil hê nie? As ons na dié paar stukkies raad van Paulus kyk, by hoeveel het ons nie die afgelope tyd gefaal nie?

Maar kom ons verval nie in swartgalligheid nie. Hierdie is dalk net weer ’n herinnering vir ons almal om te gaan kyk na die waardes wat ons basis vorm sodat die uitleef daarvan deel van elke dag sal wees.

Teks

1 Timoteus 5:1-8

Om oor na te dink

Wat sal/gaan/moet eendag op jou graf staan?
Op watter waardes bou jy jou lewe?
Wat kan jy doen om te verseker dat jy dit in alle omstandighede uitleef?

Gebed

Vader, by U leer ons van ware etiek. U neem ons hand en wys ons hoe die regte manier van lewe is. Agter U wil ek elke dag aanstap. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 23 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *