Op koers

GOD SE WOORD IN VANDAG SE WOORDE

Op koers
Hallo Frik

Skepe op die see word maklik van koers gedruk deur winde en seestrome. Die kaptein moet kort-kort die stuur verander om weer op koers te kom. Deesdae word die skepe deur rekenaars bestuur wat sommer self die koers aanpas as die winde en die strome die skip van koers laat gaan.

Die kleinste graad van verandering aan die begin van ’n reis kan meebring dat jy op ’n ander plek uitkom as wat jy oorspronklik beplan het. Hoe langer die reis, hoe vêrder eindig ’n mens van jou oorspronklik beplande eindbestemming.

In ons geestelike lewe is ons ook op reis. Op hierdie reis is daar ook strome en winde wat woes probeer om ons net so ’n tikkie van die roete af te kry. Ag, dis aanvanklik niks groots nie. Aan die begin lyk die versoeking eintlik heel aanloklik, amper onskadelik. Maar mettertyd, terwyl die winde liggies waai, druk dit ons geleidelik van koers af.

Aan die einde van die pad is daar geen wenners nie. Of nee daar is: Een vir die bose en nul vir God.

Dit is belangrik dat ons die heeltyd sal seker maak dat ons op die regte pad is. As ’n mens vêr ry en jy begin moeg raak, raak jou oë swaar. Ek het baie bus bestuur, kilometers elke nag. Daar het ek besef dat as jou oë eers een keer toegeklap het, jy dadelik moet stop, want daar is nie nog ’n waarskuwing nie. Daar is nie nog ’n stadium voordat jy aan die slaap raak nie.

So het ek een keer wakker geskrik van die bande van die bus wat op die gruis langs die pad raas …

Ons moenie op ons reis aan die slaap gesus word nie. Ons moet paraat wees. Ons moet die heeltyd seker maak dat ons op die regte pad is. Die pad waarop God wil hê ons moet wees. 16Maak doodseker dat jy reg lewe en ander so leer. Moenie ’n duim van hierdie pad afwyk nie. As jy op hierdie pad bly, sal nie net jy by God uitkom nie, maar ook almal wat luister na wat jy vir hulle sê.

Dis ons elkeen se verantwoordelikheid om seker te maak dat die winde en strome in die wêreld ons nie aan die slaap sus nie. Ons moet seker maak dat aanloklike versoekings nie die oorsaak is dat ons dalk net ’n klein verandering aan ons reisplan maak nie. Dit kan dalk veroorsaak dat ons op die verkeerde plek aankom. Watter slag sal dit nie wees nie!

As ek terugdink aan die dae toe ek bus bestuur het, kan ek nie help om te wonder watter katastrofiese gevolge sou dit nie gewees het as ek net voor ’n draai aan die slaap geraak het nie? Ek sou glad nie eers by die beplande eindplek uitgekom het nie!

Dit was eintlik reeds te laat as my oë knip. Ek moes vroeër al ’n plan gemaak het. Ek moes al by die vorige stop vir my ’n groot beker koffie gekry het of ek moes die buswaardin wakker gemaak het om my geselskap te hou.

In ons elkeen se geestelike lewe moet ons ook planne maak. Ons moet gereeld kyk na die pad waarop ons is. Is dit waar God wil hê ons moet wees? Moet ons nie dalk ’n paar aanpassings maak om weer op koers te kom nie?

Bly op koers. Doen elke nou en dan ’n rigtingaanpassing sodat jy seker kan wees jy kom eendag by die regte eindbestemming aan …

Teks

1 Timoteus 4:6-16

Om oor na te dink

Waarheen is jy op pad?

Is dit God se pad?

Watter aanpassing moet jy maak?

Gebed

Vader, met alles in my wil ek by U uitkom. Met alles in my wil ek my lewe op koers hou. Wys my die pad en help my om gehoorsaam op U leiding te reageer. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 31 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *