Vlytig fluit

Vlytig fluit
Hallo Frik

Ek is nie ’n ou wat dinge altyd behoorlik deurdink nie. Die gevolg is dat ek dit al dikwels goed reggekry het om my kop in byneste te druk. Ek vermoed dit is deel van my persoonlikheid. Die gevolge is nie altyd so goed nie.

Die seer steke het my geleer om eers so ’n oomblik te wag om seker te maak dat ek die regte ding gaan doen. In die proses maak ek dan gereeld ’n draai by die vraag of dit wat ek nou wil doen, deel is van my roeping? Het ek die vaardighede of pakkie gawes om dit te doen? En dan eindig ek gewoonlik by die vraag: Wat is my gawes?

En dit is goed dat ons keer op keer by dié punt ’n draai maak. Ons moet mediteer oor ons gawes en ons roeping. Ons moet dit keer op keer deur ons gedagtes laat rol, sodat ons presies verstaan wat dit is en ook hoe en waar ons dit kan gebruik. Wanneer ons dit so deurdink, raak dit deel van ons wese en kan ons dadelik raaksien waar ons dit moet gebruik. Eintlik is dit soos ’n bril wat ons opsit. Dit maak die plekke waar ons ons gawes kan gebruik duidelik sigbaar tussen al die geblur van die lewe.

So keer ek dat ek my kop weer in ’n bynes steek.

Wanneer dit by ons gawes kom, moet hierdie ons motto wees: 15Probeer jou bes en doen jou deel so goed jy kan. Trek alle stoppe uit om die gawes en roeping wat jy ontvang het te laat grondvat daar waar jy in die lewe leef.

Wanneer jy dit deur jou gedagtes gerol het en dit ’n prentjie in jou grysstof gevorm het, moet jy aktief begin om dit te laat realiseer. Die 1933-vertaling gebruik hier ’n woord wat ons nie meer so baie gebruik nie: Wees vlytig in hierdie dinge … Dié woord laat sien my ’n prentjie van iemand wat kliphard fluit en so nou en dan tevrede grunnik, omdat hy oorloop van geluk en so tevrede is dat hy sy genadegawes kan gebruik om ander mense te help.

En onthou, dit is nie maar net ’n gedeelte of ’n kompartement van jou lewe nie. Jy besluit nie êrens deur die dag om die gawekamer se deur oop te stoot sodat jou gawe vir ’n wyle ’n draai in jou lewe kan maak nie. Nee, dit moet deur jou hele lewe verweef word. Dit moet deel vorm van elke sekonde van jou lewe, sodat wanneer ’n behoefte sy opwagting maak, jy nie eers hoef te gaan soek waar jou gawes is om daaraan te voldoen nie.

So baie behoeftes bly behoeftes omdat mense dit nie raaksien nie. So baie behoeftes word nie bevredig nie, omdat mense vassit by die vraag: Wat is my gawes dan nou eintlik? So baie nood bly nood, omdat God se kinders nie vlytig deur die lewe stap op soek na plekkies waar hulle gawes kan grondvat nie.

Mag dit nie waar wees van ons wêreld nie. Mag die wêreldjie waarin ek en jy leef anders lyk, omdat ons weet wat ons roeping en gawes is. Mag die prentjie van ons gawes duidelik in ons gedagtes hang, sodat wanneer nood sy hand opsteek ons dit dadelik sal raaksien en met alles in ons verligting bring.

En terwyl ons dit doen, sien ander mense nie net hoe ons groei nie, maar ook hoe hulle moet doen. Deur ons lewe besef hulle hulle eie roeping en word hulle touwys gemaak hoe om ook hulle roeping met hulle gawes uit te leef.

Hoe anders sal die lewe nie lyk as ons almal dit doen nie?

Teks

1 Timoteus 4:6-16

Om oor na te dink

Wat is jou roeping en gawes?
Mediteer jy daaroor?
Waar moet dit grondvat?

Gebed

Vader, ek sukkel baie om so te doen. Ek sukkel om tyd te maak om stil te word en oor al die dinge te dink. Ek sukkel om my roeping deel te maak van my hele wese. Wat nog te sê om dit te laat grondvat. Help my Here, om te doen soos U wil. Help my om die plekkies raak te sien waar U my wil gebruik. Help my om die wêreld anders te maak. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 16 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *