Leer uit my foute

GOD SE WOORD IN VANDAG SE WOORDE

Leer uit my foute
Hallo Frik

Die lewe verander darem teen ’n spoed. Ek vertel vir my seun dat ek die hoofknaap tussen 17 mans in die studentehuis geword het toe ek met my splinternuwe rekenaar daar aankom. Dit het twee floppy drives gehad met ’n amber skerm.

My seun het my met sulke wasige oë aangekyk en ek kon sien hy wonder op watter stasie ek nou is.

’n Spotprentjie beskryf die gesprek tussen my en my seun. ’n Pa kom by sy seun en wys vir hom ’n floppy disk (daardie plat plastiekskyfies wat vroeër jare gebruik is om data te stoor). Die pa wil hoor of sy seun al so iets gesien het. Die seun se kommentaar: O, iemand het die save knoppie op ’n 3D-drukker uitgedruk.

Tye verander. En ek weet nie of dit altyd na die goeie kant toe is nie. Soos pak kry.

Ek onthou nog toe ek een debataand ’n juffrou se kar se wiele afgeblaas het. Die klok het nog nie eens die volgende oggend gelui nie, toe het ek reeds ses van die bestes gekry. En nee, die pak was nie ’n geïsoleerde gebeurtenis nie. Ek was heel gewoond daaraan.

Vandag kan ’n kind ’n saak teen sy ouers gaan maak as hulle hom of haar gefoeter het omdat hulle eenvoudig ongehoorsaam was. Ek wonder of dit nie juis die oorsaak van vandag se moeilikheid met dissipline is nie?

Eintlik wil ek sê dat ons nie moet toelaat dat alles verander nie. Dis goed as tegnologie beter raak. Ons moet daarby aanpas, maar sommige dinge in ons fondasie moet vas bly staan. Soos om die verkeerde dinge aan te spreek en met wortel en tak uit te roei.

Daaroor is Paulus ook ernstig: 20As iemand iets verkeerds gedoen het, moet daar voor almal streng met hom oor sy fout gepraat word. Dit sal ander help om nie dieselfde fout te maak nie.

Paulus praat spesifiek hier van leiers in die kerk wat gefouteer het en hoe dit aangespreek moet word. Tog is dit goeie raad vir enige een wat foute maak. Ons almal maak foute. Ons kan uit ons eie foute leer om volgende keer nie weer oor dieselfde hekkie te val nie. Net so kan ons uit mekaar se foute leer en onsself baie seer en trane spaar.

Dit is dalk ’n goeie onderwerp vir ’n boek. Kom ons stel ’n boek saam waarin ons al ons foute neerskryf. Die titel: Leer uit my foute. Dit veronderstel dat ek weet ek is feilbaar. Ek moet weet dat die sondeval se vlek ook oor my is en dat ek foute gaan maak. Ek hoef nie ’n front voor te hou nie. Ons almal maak foute. Dit is eintlik gerusstellend om te weet dat ek nie die enigste een is wat foute maak nie.

Wanneer ons besef en erken dat ons foute maak, kan ons ons daarteen begin staal. Ons kan onsself voorberei om die gate in die pad raak te sien en maniere soek hoe om dit te systap. Een van die maniere is dat ons by mekaar kan leer.

Mag ons nooit toelaat dat die verandering en groei in die wêreld ons ontneem van goeie dissipline nie. Mag ons mekaar en ook ons kinders op hulle foute wys (op ’n ordentlike manier!). En mag ons ons leefstyl só aanpas dat ons al hoe minder foute maak en al hoe meer leef soos wat God wil hê ons moet leef.

Teks
1 Timoteus 5:17-22

Om oor na te dink
Waar maak jy foute?
Hoe moet jy dit aanspreek?
Is daar iemand anders wat jy moet aanspreek?

Gebed
Vader, dis nie maklik om te erken as ons foute maak nie. Dis nog moeiliker om mekaar reg te help, maar U Woord leer ons dat dit soms nodig is sodat ons in gehoorsaamheid aan U kan leef. Help ons om mekaar in liefde reg te help en te ondersteun wanneer ons verkeerde keuses maak. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 15 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *