Om ander op die regte manier te help

Om ander op die regte manier te help
Hallo Frik

Ek wonder hoekom is dit nie altyd lekker óf maklik om ander reg te help as hulle doen en late nie heeltemal in lyn is nie. Ek is maar ’n ou wat vir liefde gemaak is en konflik is nie deel van my aard nie.

Wanneer ons seerkry, skop die verdedigingsmeganismes in en ons dink makliker aan onsself as aan die ander een. Wanneer ons dan in sulke omstandighede iemand wil reghelp, kom die hard praat makliker uit as die saggies en in liefde reghelp.

Wanneer Paulus vir Timoteus leer hoe om ander reg te help, sien ’n mens dat dit met groot versigtigheid gedoen moet word: 1Moenie te kwaai met ’n ouer man praat nie. Praat liewer mooi met hom asof hy jou eie pa is. Jonger mans moet jy behandel asof hulle jou broers is, 2ouer vroue asof hulle jou ma is en jonger vroue asof hulle jou susters is. Jy moet hulle altyd so behandel dat hulle jou sal respekteer.

Ons almal het die verantwoordelikheid om ander op een of ander stadium reg te help. Maar voordat ons dit kan doen, moet ons die reg om dit te kan doen, verdien. Ons kan nie self die verkeerde doen en dan ander wil reghelp nie. Ons moet ’n voorbeeld wees van hoe ’n mens op die regte pad stap.

Ons moenie ander reghelp wanneer ons kwaad is nie. Ons moenie die persoon met ons woorde slaan nie, want dan slaan hulle ore toe en die kans vir ’n goeie misverstand kom op die kaarte. As die emosies te hoog loop, haal eerder diep asem en stel die gesprek uit na ’n meer geskikte tyd wannneer die gemoedere bedaar het.

Dis nie altyd so maklik nie. Ek en my vrou gebruik ’n kodewoord wanneer een van ons eers ’n time outwil neem om die emosies hul lê te help kry. Later moet die een wat die time out gevra het, terugkom en aangaan met die gesprek – sónder die hoop emosies. Die oplossing is dikwels dan nie vêr in die pad af nie.

Daar sal altyd ’n geleentheid wees by die werk of by vriende waar ons ander kan reghelp. Die geheim is om dit só te doen dat die ander party nie verkleineer word nie. Onthou, ons almal dink altyd óns het die regte punt beet. Dis nodig dat ons mekaar help om die ander kant ook in te sien.

Ons moet verstaan dat dit nie altyd maklik is om van rigting te verander as ons sterk op pad is na ’n spesifieke einddoel nie. Dikwels is die einddoel om te wen. Wanneer ons dus iemand moet reghelp, moet ons dit met sensitiwiteit en deernis doen. Môre sit ons dalk self met so ’n tameletjie om uit te sorteer en dan het ons weer hierdie vriend se hulp en leiding nodig.

So sag soos wat jy met Oupa of Ouma sal praat om tog nie so hardkoppig te wees nie, so sag soos jy met jou pa of ma sal praat oor familiesake wat aandag kort, so sag soos jy met ’n broer of suster sal praat oor liefdeloosheid, só sag moet ons die mense by die werk, ons vriende en selfs vreemdelinge help om die regte pad te stap.

Die toets lê daarin dat wanneer ons wegstap, mense steeds goed oor hulself sal voel. Hulle moet positief wees oor die verandering wat jy voorgestel het en opgewonde wees om dit te gaan probeer. Ons het mense mooi gehelp wanneer hulle ons respekteer en kans sien om weer te probeer.

Teks

1 Timoteus 5:1-8

Om oor na te dink
Wie moet jy reghelp?
Hoe moet jy dit doen?
Sien jy kans daarvoor?

Gebed
Vader, ek besef ons elkeen het ’n verantwoordelikheid om mekaar te wys wanneer ons op die verkeerde pad is. Dis nie vir my maklik nie en ek weet nie aldag of ek al die tools het om dit te doen nie. Tog weet ek met U wat vooruitstap en my hand neem, kan ek dit doen. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 51 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *