Ingelegde Kerrievis

Lynette Muller
Hoe langer die vis in die kerriesous bly, hoe geuriger word dit. Dit kan op sy eie ’n ligte ete wees, of dit kan voorgesit word as ’n hoofmaal met brood, botter en konfyt.

Bestanddele
1 kg stokvisstukke
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
250 ml (1 k) koekmeelblom
2 ekstragroot eiers, geklits
125 ml (½ k) kookolie
Kerriesous
3 groot uie, geskil en in skywe gesny
375 ml (1½ k) bruinasyn
60 ml (¼ k) water
45 ml (3 eetl) suiker
5 ml (1 t) borrie
10 ml (2 t) kerriepoeier
1 ml fyn paprika
4 lourierblare
8 peperkorrels
sout na smaak

Metode
Plaas visstukke in ’n bak. Indien bevrore vis gebruik word, laat ongeveer 30 minute staan om effens te ontvries. Meng geurmiddels met meel. Rol vis in die gegeurde meel. Verhit ’n braaipan met olie. Dompel vis in die geklitste eier en plaas direk in die warm olie. Braai vis vir ongeveer 5 minute aan elke kant of tot goudbruin. Verwyder uit olie en dreineer.

Sous:
Kook al die bestanddele saam in ’n swaarboomkastrol vir ongeveer 10 minute. Plaas die helfte van vis op bodem van ’n diep opdienbak. Giet die helfte van uiemengsel oor. Herhaal met vis en sous en plaas in yskas oornag sodat geur kan deurtrek.

Bediening
Bedien die vis met hotcross buns, broodrolletjies of selfs kapokaartappels.

Variasies
Vervang die stokvis deur kabeljou of enige ander vis van jou keuse. Die filette kan in enige groottes of vorms gesny word.
Kruie van jou keuse kan ook bygevoeg word. Speserye soos koljander en komyn kan ook gebruik word.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 19 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *