Minsaamheid is ’n taal wat die dowe kan hoor

Minsaamheid is ’n taal wat die dowe kan hoor
Hallo Frik

En nog is dit “het einde niet” met vers 11. Binne hierdie vers is daar sewe groot preke. Eerstens het ons gehoor dat ons moet wegbeur van die verkeerde dinge (’n stemmetjie hier binne ons sê mos vir ons wat dit is). Dan sê die ou vertaling dat ons moet 11 … streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.

Eintlik moet ons die woorde teen ons skerms opplak sodat ons elke oomblik daarna kan streef en dit met alles in ons najaag.

Maar wat beteken hierdie laaste opdrag wat ons moet najaag: minsaamheid? Dis moeilik om sommer met een woord die betekenis hiervan vas te vat, maar kom ons kyk hoe die woord op ander plekke in die Bybel vertaal word: sagmoedigheid, beskeidenheid, vriendelikheid en bedagsaamheid.

Die woord is die teenoorgestelde van om op mense te trap en dinge te doen vir eie gewin. Nee, inteendeel. Hierdie woord dui juis op gedrag waar die eie ek opsy staan en waar ander mense voor jou ’n plek in die ry gegee word. Wanneer ’n mens minsaam of sagmoedig is, is die ander een se behoeftes altyd eerste in jou vissier.

Ek lees die volgende op Woorde van Wysheid se blad:

Minsaamheid is die reël – dit behoort in alle gelowiges se lewens teenwoordig te wees: Jou skoonheid van binne, uit die hart – sagtheid, liefdevol, blywende beskeidenheid en kalmte van gees.

Minsaamheid het mense deur al die eeue aangegryp, verower, verruk en vertroos. Minsaamheid het meer sondaars bekeer as ywer, welsprekendheid of geleerdheid (Frederick F Faber).

Minsaamheid is ’n taal wat die dowe kan hoor en die blinde kan sien. Waar minsaamheid uit die onderrig verdwyn, verdwyn die moontlikheid om mense te oortuig dat God liefde is

Minsaamheid is om soos Jesus te wees. Jesus het altyd eers die ander se behoeftes raakgesien. Al was hy moeg geploeg, sou Hy eers by die siekes omgaan en hulle nood verlig. Dié wat honger was, het Hy kos gee, al kos dit ’n wonderwerk. Selfs soms ten koste van Sy eie behoeftes is Hy gedring om eers die verlossingsboodskap by die verlorenes uit te kry. Jesus was die perfekte voorbeeld van minsaamheid, want Hy was sagmoedig, beskeie, vriendelik en bedagsaam.

’n Ware voorbeeld om na te jaag.

En tog, as ek weer so oor my eie lewe kyk, sien ek nie altyd tekens daarvan nie.

Dan besef ek maar net weer my eie gebrokenheid. Ek weet dat ek nog ’n projek in wording is en nog baie timmerwerk nodig het. Ek besef dat dit ’n lang proses is waar ek elke dag twee tree vorentoe beur en dan weer hier en daar een tree gaan teruggee. Maar ek moet aanhou om vorentoe te beur. Want so met die beur raak ek beter. Dan kry ek dit al hoe meer reg om, al kook die bloed, sagmoedig te wees.

Al is dit juis my planne wat alles laat werk het, is ek beskeie. En al voel ek nie juis so nie, probeer ek my bes om te glimlag.

Kom ons probeer ons bes …

Teks
1 Timoteus 6:11-16

Om oor na te dink
Waar ontbreek sagmoedigheid in jou lewe?
Wie kort jou sagmoedigheid?
Hoe kan jy dit uitdeel?

Gebed
Vader, ek besef maar net weer dat ek nog baie timmerwerk nodig het. Ek besef dit is ’n proses, maar ek besef ook dat ek dit nie alleen kan doen nie. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 51 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *