Moed staan uit jou skoene op

Moed staan uit jou skoene op
Hallo Frik

Daar was tye in my lewe waar ek op die rand van moedverloor se vlakte was. Alles was teen my. Niks wou reg loop nie. Dis die een uitdaging na die ander en dit wou net nie ophou nie. Maak nie saak wat ek probeer nie, nêrens is daar sukses nie. Dis sulke tye wanneer jy vrae vra soos wat jy nou eintlik op die aarde maak en of dit nie dalk beter sou wees as jy glad nie hier was nie.

Dis sulke tye wanneer ’n teksversie se pleister eenvoudig net te klein is om oor die groot gat in jou lewe te span. Die vraagtekens word onbeantwoord gelos.

Ek wonder of jy al by so ’n plek in jou lewe was? Dalk is jy nou daar. Soos Monette (skuilnaam) skryf:

Ek is die jaar ses jaar getroud. Maar my huwelik is besig om my te verwoes. 

Ek sal graag voor wil begin en jou net ’n kykie gee in wie ek is en hoekom ek worstel. 

My ma het selfdood gepleeg toe ek vier jaar oud was. My pa se derde vrou het my en my broer verder gebreek deur uitermate streng te wees en ons weg van my pa te hou. My broer het gedragsprobleme ontwikkel en so al die aandag van die familie opgeëis. 

Intussen was ek deur my oupa gemolesteer en later in ’n ernstige verhouding met ons dorp se ‘kroonprins’ wat agter toe deure vreeslik jaloers en besitlik is. Toe ek klaar maak met skool het ek my tasse gepak, almal agter gelos en op my eie probeer aangaan. 

Hierdie is slegs die inleidende paragraaf van haar e-pos aan my. Die res breek ’n mens se hart stukkend om te sien hoe sy verder in haar huwelik afgebreek word en hoe haar gedrag negatief beïnvloed is.

Vraagtekens word onbeantwoord gelos.

Dis nie sommer net vir ’n paar veranderinkies en alles loop weer klopdisselboom nie. Hierdie is ’n proses wat baie lank neem en genesing kom stadig in die pad af gestap. Vers 11 help ons om die proses aan die gang te skop, waar die heel belangrikste is om te besef dat jy die eiendom van God is. Jy het baie waarde. Onthou dit, weet dit en leef dit elke oomblik van die dag.

Vers 11 gaan voort: 11… Bly weg van al hierdie slegte dinge af. Doen eerder jou bes om so te leef dat God met jou tevrede voel. Dis ’n lewenswyse om seker te maak dat jy in die middel van God se pad loop. Hou aan om op God te vertrou en om oor te loop van liefde vir ander.

En dan eintlik ’n opdrag: Moenie moed verloor nie … Maar hoe kry ek dit reg, hoor ek vir Monette en ander vra, as die branders eenvoudig net nie ophou om oor my kop te rol nie?

Dalk kry ’n mens weer hoop, dalk kry ’n mens weer moed deur net dié raad te volg:

  1. Sê hardop dat God jou gemaak het, uitgekies het en ’n droom vir jou het.
  2. Sorg dat jy wegbly van slegte dinge.
  3. Met alles in jou, vertrou dat God jou hand sal neem en saam met jou deur die helse vuur stap.
  4. Soek plekke waar jy God se liefde kan sigbaar maak.

Net dan, dalk net dan, staan jou moed uit jou skoene op en kan jy weer die wêreld en jou omstandighede vierkantig in die oë kyk.

Teks
1 Timoteus 6:11-16

Om oor na te dink
Verwoord jou swaar.
Wil jy ’n einde daaraan maak?
Hoe kan jy die planne implementeer?

Gebed
Here, ek kry swaar. Ek sukkel om kop bo water te hou. Ek het U hulp so nodig. Help my om te luister en te doen soos U sê. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 59 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *