Vooropkoms sondedoder

Vooropkoms sondedoder
Hallo Frik

Bradley (skuilnaam) help my met ’n eenvoudige beeld van sonde:

As sondaar kan jy jouself vergelyk met ’n vark. En die modder is die sonde. En soos ons weet, hou ’n vark daarvan om in die modder te lê. Dit is die toestand van die sondige natuur.

As ons gered word, kry ons egter ’n nuwe natuur – die natuur van ’n skaap. Ons volg Jesus. Maar in enige skaap se lewe gebeur dit soms dat hy ook gly en val. Dan sal daar wel modder aan hom vaskleef. Maar ’n skaap bly nie in die modder soos ’n vark nie. Nee, hy staan op en skud die modder af en loop verder.

Daarom maak dit nie sin vir ’n kind van God om in sak en as te gaan lê as hy gesondig, oftewel gefouteer het nie. Nee, hy moet opstaan, want die modder het hom nie ’n vark gemaak nie. Sy natuur en verhouding met Jesus bly nog dieselfde.

Alhoewel ons God se eiendom is en alhoewel ons ’n keuse teen die sonde gemaak het, is die kans goed dat ons êrens langs die pad gaan gly en val. Ons moet dit erken, want wanneer ons weet daar bestaan ’n kans dat ons kan gly, kan ons ons daarteen staal. Ons kan planne maak om nie te gly nie. Ons móét planne maak, anders gaan ons meer lê as opstaan.

11Timoteus, jy is God s’n. Bly weg van al hierdie slegte dinge af.

Bly weg van die sonde af. Jy sien, al is ons God se eiendom, is ons eintlik soos magnete wat die sonde na ons toe aantrek. As ons ons weer kom kry, staan ons met ons voete in die modder.

Nee, ek gaan nie weer na so iets kyk nie, maar as ek my weer kom kry, staan ek met moddervoete en ’n oorlaaide skuldgevoel van my skerm af op. Nee, ek gaan nie weer my vingers in die laairegister druk nie, maar as ek my weer kom kry, is my sakke vol. Nee, ek gaan nie weer my humeur verloor nie. Ek gaan nie weer lelik praat nie. Ek gaan nie weer … Maar voor ek my kom kry, is ek vol modder.

Ons moet bewustelik hard probeer om nie te sondig nie. Ons moet ons eie wagte aanstel. As ons weet dat ons sukkel om op ’n sekere plek in ons lewe staande te bly, moet ons ander vra om daar vir ons te wag en te keer dat ons nie gly nie. Deur net met iemand te deel waarmee jy sukkel, help klaar dat jy minder sal gly en val.

Sit jou naam hier in: ……………, jy is God s’n. Bly weg van al hierdie slegte dinge af.

Roei sonde met wortel en tak uit. Kom ons maak seker dat dit nie eers opkom nie en bly eenvoudig weg van die kwaad.

Dit laat dink my nou aan die dae op die plaas. Onkruid is maar altyd ’n groot probleem, want dit steel die kos van die wingerd. Weens die duur arbeidskoste is dit nie meer moontlik om die onkruid uit te skoffel nie. Daarom het ons gebruik gemaak van vooropkoms onkruiddoder. Net na die winter word die middel op die bankie tussen die wingerd gespuit. Met die laaste bietjie reën word dit in die grond gewas.

Enige onkruid saadjie wat ontkiem, word, voordat dit nog sy kop uit die grond druk, deur die vooropkomsdoder doodgemaak. En so bly die bankie amper heel jaar skoon van onkruid.

Kom ons tref voorsorg en spuit onkruiddoder deur seker te maak dat ons wegbly van sonde en so verseker dat ons nie in die modder rol nie.

 Teks
1 Timoteus 6:11-16

Om oor na te dink
Hoe lyk die sonde in jou lewe?
Waar moet jy ophou?
Wie moet jy vra om te help?

Gebed
Vader, ek weet dat daar onkruid in my lewe is. Ek weet ek moet hulle uitroei. Ek weet ek moet wagte aanstel om hulle nie eens te laat opkom nie. Ek sukkel. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

 

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 4 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *