Bid, bid en nog bid

Bid, bid en nog bid
Hallo Frik

Nadat ek die stukkie “Seën vir die verlepte blommetjies” geskryf het, stuur ek dit vir die drie dames wat gesê het hulle blommetjies lyk nie lekker nie. Een vra wie ek is, ’n ander bly stil. Die derde een se antwoord verduidelik mooi hoekom haar blommetjie verlep is.

Ek probeer haar bemoedig en sê so ter afsluiting dat ek ons gebedsgroep sal vra om vir haar in te tree. ’n Kruispad intersessor skryf vir haar die volgende:

Die vyand is besig om met jou kop te smokkel. Beskerm jouself. Ek bid Psalm 91 oor jou. Bid elke dag die Onse Vader gebed. Die vyand loop die hele tyd rond en kyk wie hy kan vernietig. Die Vader daarenteen vertel vir jou om na Hom toe te kom wanneer jy moeg en belas is. Matteus 11:28-30. Hy belowe ons sal rus vind vir ons siele.

Liewe God en Vader, ek neem vandag vir Sussie en plaas haar voor U voete en vra dat U haar las sal help dra. Die vyand is uit om haar te vernietig, maar U is getrou. Ek trek die wapenrusting aan vir haar soos in Efesiërs 6. Ek salf haar met U genade en vra dat U vir haar ’n hart van vreugde en vrede sal gee. Amen.

Sussie se reaksie:

Baie, baie, baie dankie! Hier waar ek sit, het ek nou gewonder of dit nie maar beter sal wees om ’n einde aan als te maak nie, want niks maak meer saak nie. En hier kom die boodskap. Ek kan net vir God prys! Baie dankie!

Gebed werk. Gebed is kragtig. Gebed red mense se lewens. Letterlik en figuurlik. Dit is so ’n wonderlike hulp wat God vir ons gegee het. Ons moet dit gebruik. 3… Wanneer ek met hierdie God in gebed praat, dink ek ook aan jou, maak nie saak of dit dag of nag is nie.

Ons moet vir mekaar intree. Ons moet namens mekaar voor God gaan buig. Daar kom tye wat ek nie kan bid nie. Tye wanneer dit voel my probeerslae trek nie verder as die dak nie. Dis dan wat ek weet en glo dat ander se gebede my deurtrek. Wanneer ek nie kan nie, wanneer my stem stil is, hoor God my gebede deur ander se monde.

Ek weet nie hoe dit werk nie, maar ek weet dit werk.

Kom ons bid meer vir mekaar. Kom ons bid vir ander wat nie lekker kan of weet hoe om te bid nie.

En nou hoor ek weer daai ou wat sê: “Hoekom bid jy, want jy het dit al hoeveel keer gebid. God weet mos in ieder geval wat jy gaan sê.” Wel, my vriend, dis nie God wat verander nie, maar dit is juis jy wat anders word nadat jy gebid het.

Kom ons bid meer vir mekaar. Kom ons bid vir ander wat nie lekker kan of weet hoe om te bid nie. Dalk is dit juis jou gebed en woorde wat keer dat die ander persoon besluit om ’n einde aan alles te maak.

Só word God se wêreld beter en word Sy naam geëer.

Teks
2 Timoteus 1:3-7

Om oor na te dink
Bid jy?
Bid jy genoeg?
Bid jy genoeg vir ander?

Gebed
Here, ek weet ek moet bid. Maar ek bid nie genoeg nie. Ek bid nie genoeg vir my geliefdes nie. Jammer, Here! Daarom bid ek nou vir … Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

 

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 29 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *