Klapperys Idees

Lynette Muller

Maak: 1 hoeveelheid
Bereidingstyd: 30 minute

Bestanddele
280 g (500 ml) versiersuiker
1 ml kremetart
1 blik (397 g) kondensmelk
270 g (865 ml) droë klapper
pienk koskleursel

Metode
Smeer ’n vierkantige 20 cmkoekpan. Sif die versiersuiker en kremetart saam. Voeg die kondensmelk en die helfte van die klapper by en roer goed. Roer die orige klapper by tot alles saamklou. Verdeel die mengsel in twee. Kleur een helfte pienk. Druk die pienk mengsel in die koekpan vas, gevolg deur die wit mengsel. Sit dit vir ’n uur in die yskas. Sny dit in blokkies en bêre dit in ’n lugdigte houer.

Geurvariasies:
Bosbessie & Roos:
Voeg ’n paar druppels rooswater by die wit mengsel. Voeg 80 ml gekapte droë bosbessies by die pienk mengsel.

Suurlemoen Of Lemmetjie:
Verdeel die mengsel in die helfte en kleur een deel met ’n druppel groen of geel koskleursel, of los albei dele wit. Voeg 10 ml gerasperde suurlemoen- of lemmetjieskil by die een helfte van die mengsel.

Piña Colada:
Voeg 30 ml gekapte droë pynappel en ’n druppel pynappelgeursel by die mengsel. Los dit wit, of kleur dit met ’n druppel geel koskleursel.

Reënboog (‘neapolitan’):
Verdeel die mengsel in drie. Los een deel wit. Kleur nog ’n deel pienk en voeg ’n druppel aarbeigeursel by. Voeg 30 ml kakaopoeier by die orige derde. Knie die kakao in om dit goed te versprei. Druk eers die pienk laag in die koekpan vas, dan die wit laag en laastens die sjokoladelaag. Sny dit in skywe.

Verpak dit so
Pak die klapperys in klein boksies en versier dit met ’n etiket wat jy self gemaak het en mooi lint.

Pienk Harte
Maak ’n basiese hoeveelheid klapperys volgens die resep hier bo. Verdeel dit in twee of drie dele en kleur dit in verskillende skakerings van pienk. Rol elke kleur op ’n aparte stuk bakpapier uit. Wag tot dit styf is en gebruik dan ’n hartvormige koekiedrukker om harte uit te druk. Laat oornag staan op bakplate wat met bakpapier gevoer is. Pak die harte in glasflesse, plak ’n mooi etiket op die deksel en rond dit af deur lint of kant om die rand van die deksel vas te bind.

Klapperys-Lollies
Maak ’n basiese hoeveelheid klapperys volgens die resep hier bo. Los dit wit of kleur dit met ’n paar druppels pienk koskleursel. Rol die mengsel in klein bolletjies omtrent so groot soos okkerneute. Pak die bolletjies op bakplate wat met bakpapier gevoer is. Smelt 200 g witsjokolade in ’n glasbak, roer dit tot glad en laat dit eenkant staan om effens af te koel. Koop stokkielekker-stokkies by ’n bakwinkel, of gebruik sosatiestokkies. Steek ’n stokkie in elke bolletjie en doop dit dan in die sjokolade. Druk die lollies in ’n stuk polistireen of bloemiste-oase sodat dit regop staan terwyl die sjokolade stol. Wanneer dit amper hard is, kan jy droë klapper, klapperskaafsels of kleurstrooisels bo-oor strooi. Laat die sjokolade heeltemal hard word. Pak die lollies in sellofaanboksies – pons ’n gaatjie aan die bokant van die boks en druk die stokkie deur die gaatjie.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 129 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *