Lewe net …

Lewe net …
Hallo Frik

Ek dink nie ons besef altyd die impak wat die sonde in die tuin van Eden gehad het nie. Dit was die grootste ramp wat die mens nog ooit getref het. Ja, daar was al groot rampe in die wêreld. Al die groot oorloë, al die groot natuurrampe en nog baie meer.

Die rampe het egter net die mense geraak wat daarby betrokke was. Die ramp van die sondeval het egter op elke liewe mense ’n invloed, ’n baie groot invloed wat die mensdom vir die res van hulle bestaan baie negatief beïnvloed. Dus is die sondeval die grootste ramp wat die mens kon tref.

Die keuse wat die mens gemaak het om teen God op te staan en sy eie wil te volg, man en vrou, het ’n groot hindernis tussen die mens en God staan gemaak. Die mens was verlore en die dood was elke keer sy voorland. God en die mens was vyande.

Die mens kon niks doen om die vyandskap te verander nie. Dit het niks gehelp dat hy een miljoen goeie dade doen vir elke sonde wat hy per ongeluk gedoen het nie. Sy straf aan die einde van die lewe was reeds geboek nog voor hy gebore is. En dit is die dood.

Ek sien in my geestesoog hoe moeilik dit vir God moes wees om elke kind van Hom in die ewige vuur te sien brand. Sy Vaderhart kon dit eenvoudig net nie meer hou nie en daarom maak Hy ’n plan. ’n Groot plan. ’n Duur plan: Jesus moes Sy lewe opoffer. Hy moes gemartel word. Hy moes ly. Hy moes sterf. Hy moes ter helle neerdaal …

… sodat ek en jy kon lewe.

8… God het ons mos weer sy vriende gemaak en gevra om net vir Hom te leef.

So ’n eenvoudige sinnetjie, maar tog die beste, grootste, verlossende nuus waarop ons ooit kon hoop. Die vyandskap wat daar tussen ons en God was, het Jesus met die kruis kom uitvee. Die groot ramp wat op ons elkeen gewag het, het God en Jesus kom verander. Die hel met die ewige vuur is nie meer in die prentjie vir ons wat …

Wat wat?

… Wat nie meer sondig nie? Nee, ons sondig maar nog steeds – dis ongelukkig die netto effek van die sonde wat in die tuin van Eden geplant is.

… Nee, vir ons wat Jesus as ons persoonlike Saligmaker en Here aanroep. Dis al wat jy nodig het om die ramp vry te spring. Dis al wat jy nodig het om die hemel in te stap. Jy moet jou hand opsteek, jou sondes bely en in gehoorsaamheid verder stap.

Sjoe, dis amper te goed om te glo.

Die vraag is nou of dit werklik grondvat in ons lewe? Sien jy dat die teks iets van jou vra? Jip, dis God wat vir jou vra: Leef vir My! Leef nét vir My!

Dis wat ons moet doen. Elke dag. Elke oggend as ons opstaan moet ons een doel voor oë hê en dit is om met alles in ons net vir God te lewe. Eintlik is dit maar min gevra vir Hom wat ons kom red het en die vyandskap tussen ons en God verander het.

Kom ons probeer dit vandag en môre en so. Kom ons laat toe dat ons dankbaarheid die stuur oorneem sodat ons met alles in ons net vir God sal lewe.

Teks
2 Timoteus 1:8-12

Om oor na te dink
Besef jy die impak van God se plan?
Watter impak maak dit op jou gedrag?
Lewe jy net vir God?

Gebed
Vader, hoe sê ’n mens dankie vir U plan? Om te lewe na U wil, vir seker. Maar ek sukkel. Tog wil ek! Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 15 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *